’n Aap in die suidelike Japanse stad Oita het die jongste dier geword om die uitslae van Wêreldbeker-wedstryde te voorspel.

Dié 13-jarige mannetjiesaap, genaamd Goro, het reeds suksesvol voorspel dat Nieu-Seeland vir Kanada sou klop (die Kiwi’s was met 63-0 baas) en het voorspellings vir nóg twee wedstryde in dié rugbyskouspel gewaag.

Goro, wat duidelik nie ’n aanhanger van buiteperde is nie, het voorspel dat Australië Saterdag met Uruguay sal afreken en dat Wallis Woensdag vir Fidji sal verslaan. Albei dié groepwedstryde vind in Oita plaas.

Goro het die wenners gekies deur patats, wat onder baniere met die spanne se name gehang het, te vang.

Vroeër in die toernooi het ’n paar seekatte voorspellings oor Japan se groepwedstryde gewaag. Hulle het reg voorspel dat Japan met Ierland sou afreken, maar ook dat die gasheernasie teen Rusland, Skotland en Samoa sou verloor.

Japan het reeds met Rusland afgereken, maar moet nog met Samoa (Saterdag) en Skotland (13 Oktober) te staan kom.

Heldersiende diere het sedert die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 ietwat van ’n tradisie geword. ’n Duitse seekat, Paul, het destyds wêreldwyd roem verwerf toe hy in die kol was met ’n rits voorspellings oor Duitsland se wedstryde in dié toernooi in Suid-Afrika. 

– Reuters