RG Snyman beplan nie om van sy welige baard en ’n ewe indrukwekkende boskaas ontslae te raak nie. Die Bok-slot se baard en hare het hom sommer baie gewild hier in Japan gemaak.

Die 24-jarige reus wat 2,06 m lank is en 117 kg weeg, beskou dit nes sy hare en baard as sy handelsmerk – nes die kenmerkende wyse waarop hy die bal met een hand in kontaksituasies uitgee.

Die hare en baard kan selfs bly wanneer hy en Saskia Redelinghuys ’n week ná die Wêreldbeker trou.

“Ek is nie so lief daarvoor om die haarkapper te besoek nie,” het Snyman met ’n breë glimlag in ’n onderhoud aan Rapport gesê.

“Ek weet nie of die baard en hare altyd so sal bly nie, maar vir nou laat ek dit maar gaan.”

Al help sy haredos en baard vir sy gewildheid, besef die oud-Affie dis net met harde werk wat hy eendag sy ware potensiaal sal verwesenlik. Die wêreld het al blertse daarvan gesien, veral toe hy as Speler van die Wedstryd teen Kanada in ’n groepwedstryd in Kobe gewys het hoe hy die bal kan dra.

In verlede jaar se toetsreeks teen Engeland het Snyman (toe hy vir ’n beseerde Eben Etzebeth ingestaan het) gewys dat hy ook nie vir die fisieke kant van die spel terugstaan nie.

Henry Kelbrick, wat as ’n spandokter diep spore in Blou Bul-rugby getrap het, het tydens ’n ontbyt Snyman en sy pa Roelf raad gegee wat die Bok vir die res van sy loopbaan wil aanwend.

“Dok Henry het gesê jy moet versigtig wees om te luister na mense wat ’n ding gou-gou wil doen.

“Daar is nie kortpaaie in rugby of die lewe nie. ’n Mens moet hard werk as jy iets wil bereik.”

Ná 21 toetse het Snyman Bok-ondersteuners opgewonde oor wat hy vorentoe met groter ervaring vir sy land op die rugbyveld kan vermag.

Dit is ’n baie spesiale trui om oor jou kop te trek.
RG Snyman

“Om eendag nie net as ’n goeie toetsspeler beskou te word nie, maar as ’n Bok-grote, sal ek net moet aanhou werk aan dit wat my goed maak.

“Ek moet ook aanhou leer by die ervare manne saam met wie ek speel.

“Elke dag is ’n nuwe geleentheid om te verbeter. Om vir die Bokke te speel is ’n groot motivering opsigself.

“Dit is ’n baie spesiale trui om oor jou kop te trek. Daar is nie baie mense wat die voorreg kry nie en dit maak dit so spesiaal.”

Statistieke van die Wêreldbeker toon dat Snyman tans in Lood de Jager, Eben Etzebeth, Franco Mostert en selfs Pieter-Steph du Toit goeie leermeesters het.

Die Bokke het voor vandag se Wêreldbekerhalfeindstryd in Jokohama 57 uit 57 van hul lynstaanballe gewen.

Meer indrukwekkend is die 11 lynstaanballe wat die Suid-Afrikaners sover by teenstanders afgeneem het.

Dit was voor gister se halfeindstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland in Jokohama die meeste deur enige span in die Wêreldbeker.

“Dit (lynstaan-statistieke) gee ons vir seker selfvertroue met die oog op die halfeindstryd.

“Ek dink die grootste ding wat die verskil vir ons maak, is Lood en Franco wat 100% fokus.

“Hulle doen hul huiswerk van teenstanders uitstekend, wat ons in ’n posisie plaas om goeie besluite in die lynstane te neem.”