’n Stap om te verseker Siya Kolisi behou die peil wat hy teen Italië vir die uitkloprondes van die Wêreldbeker (WB)-toernooi getoon het, het Rassie Erasmus laat besluit om sy kaptein in die beginspan vir Dinsdagaand se kragmeting met Kanada in Kobe te behou.

“Ons voel dat Siya sy voorste peil in die regte stadium van die toernooi herwin,” sê die Bok-afrigter.

“Teen Japan (in ’n WB-losmaker) was hy dalk nie op sy beste nie. Teen Nieu-Seeland het hy probeer om sy beste peil te herwin. Teen Italië was hy baie goed. As hy teen Kanada nog so ’n vertoning kan lewer soos teen Italië, sal dit baie vir sy selfvertroue voor die kwarteindstryd beteken.”

Kolisi en Damian de Allende is die enigste spelers wat in die beginspan teen Italië was en weer met die afskop op die veld teen Kanada sal wees.

Die Bok-kaptein het teen Italië onder meer 11 duikslae ingekry wat saam met Lood de Jager die meeste deur die Bok-spelers was. Kolisi het ook 80 minute teen Italië gespeel, nadat dit nie vroeër die geval in sy span se Groep B-wedstryde teen Nieu-Seeland en Namibië was nie.

Sy peil is weer waar dit was.
Rassie Erasmus

“Ek dink hy was wonderlik (teen Italië),” sê Erasmus.

“Sy peil is weer waar dit was. Om hom nou nie speelkans te gee nie, sal beteken dat ons die proses basies weer van vooraf moet begin aangesien hy nie iemand is wat baie minute se speeltyd agter die blad het nie. Hoe meer hy speel, hoe beter vir hom. Ek het werklik gedink hy was uitstekend teen Italië.”

Volgens Erasmus was hul eerste doelwit ná Kolisi se kniebesering om te verseker dat hy betyds herstel om vir die WB-toernooi oorweeg te word.

“Toe kry ons hom fiks vir die toets teen die All Blacks. En toe wou ons hê hy moet vir ’n volle 80 minute speel.”

Kolisi sal saam met Kwagga Smith en Francois Louw die lostrio teen Kanada vorm.