Gebeure af van die speelveld sal volgens Mzwandile Stick, Bokke se hulpafrigter, nie ’n negatiewe invloed op Eben Etzebeth se spel in Vrydagaand se beslissende Wêreldbeker-groepwedstryd tussen die Springbokke en Italië in Sjizoeoka hê nie.

“Ons as die afrigters en spelers weet nie te veel wat aangaan met Eben se saak in Suid-Afrika nie,” sê Stick.

“Eben fokus net op die wedstryd. Hy is deel van ons Wêreldbeker-groep en sal môre (Vrydag) speel.

“Sy aandag is soos die res van die span s’n op die toets teen Italië gerig. Hy is in ’n goeie ruimte.”

Etzebeth was Donderdag op die Bokke se laaste nuuskonferensie in die Sjizoeoka-stadion ’n groot besprekingspunt.

Selfs sy boesemvriend Siya Kolisi is deur internasionale rugbyskrywers oor die aangeleentheid gepols.

“Ek weet nie regtig wat aangaan nie,” het Kolisi, die Springbok-kaptein, gesê.

“Die bestuurspan sal sy aangeleentheid hanteer. Ons as spelers is net hier om te speel. Ons het nie die week enige afleidings gehad nie.”

Mzwandile Stick by ’n Bok-oefening. Foto: Gallo Images

SA Rugby het net voordat die Bokke Donderdag hul kapteinsoefening in die Sjizoeoka-stadion gehou het, ’n kort nuusverklaring oor die aangeleentheid uitgereik.

“Ná ons samesprekings met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK), het ons met ’n interne proses begin om die aangeleentheid te bespreek, wat ’n indiensneming saak tussen die speler en SA Rugby bly, ” lui die kort nuusverklaring.

Jana Marx het vroeër berig die Bok-slot word dalk deur strafregtelike en siviele aanklagte, asook ’n klag van haatspraak in die gesig gestaar, het adv. Buang Jones, hoof van die MRK se regsafdeling in Johannesburg, Woensdag gesê.

Die MRK het bevestig dat hy Vrydag sy klag van haatspraak teen Etzebeth by die gelykheidshof gaan indien.

Dit spruit uit ’n beweerde voorval in Langebaan in die Wes-Kaap waarin hy en ’n groep mense wat saam met hom was, glo twee mans aangerand het en glo ook rassistiese aanmerkings teenoor hulle gemaak het.

Volgens ’n woordvoerder van SA Rugby bevestig SA Rugby sy toewyding as ’n goeie korporatiewe burger om te voldoen aan die vereistes wat Suid-Afrikaanse owerhede aan hom of sy werknemers stel.

“Ons het tot dusver aan alle versoeke voldoen en sal voortgaan om dit te doen soos en wanneer dit aanbeveel word,” lui die nuusverklaring.