Dit gaan nie oor hom en sy 50ste toets in Saterdag se Wêreldbeker (WB)-eindstryd tussen die Springbokke en Engeland in Jokohama nie, sê Siya Kolisi.

“Die belangrikste is om my kant vir die span te bring,” sê die Bok-kaptein.

“Dit is vir elke speler in die span ’n baie spesiale wedstryd aangesien dit die eindstryd is. Uiteraard is ek gelukkig dat ek in my 50ste speel, maar dit gaan oor die span en nie oor my nie.”

Die 28-jarige Kolisi was in sy span se laaste nuuskonferensie Vrydag in Tokio nog net so nederig soos die speler wat op 15 Junie 2013 op 21-jarige ouderdom in Nelspruit sy toetsbuiging as ’n plaasvervanger teen Skotland gemaak het. Sy selfvertroue het wel gegroei en hy was ’n ware ambassadeur vir sy land in vandag se nuuskonferensie wat deur ongeveer 80 rugbyskrywer van oor die wêreld heen bygewoon is.

Die eindstryd sal vir hom ekstra spesiaal wees omdat sy pa, Fezakele Kolisi, slegs die tweede keer langs die veld sal wees wanneer hy speel. Sy pa was ook teenwoordig toe hy sy toetsbuiging gemaak het.

Dié kaptein lei die Springbokke sedert 9 Junie 2018 en is saam met Francois Pienaar in 1995 en Corné Krige in 2003 die derde flank om die Suid-Afrikaanse kaptein in ’n Wêreldbeker te wees.

Hy is oortuig daarvan ’n eindstryd kan ’n speler se vertoning verbeter.

“Dis nie net nog ’n wedstryd nie. Dis ’n eindstryd. Nie almal kry die kans om in ’n eindstryd te speel nie. Die emosie loop hoog – ons as ’n span moet dit net reg kanaliseer.”

Van die kantlyn af lyk dit nie asof die las van die kapteinskap in ’n week soos dié een te swaar vir Kolisi raak om te dra nie. Hy het ontspanne in die nuuskonferensie gelyk wat hy saam met Mzwandile Stick en Handré Pollard bygewoon het.

“My kapteinskap was aanvanklik moeilik, dit het my gevang. Dit het my spel negatief beïnvloed. Ek was nie in verlede jaar se toetsreeks teen Engeland op my beste nie,” sê die Kolisi.

“Sedertdien moes ek hard werk. Aled Walters (die Springbokke se fiksheidsghoeroe) het baie hard aan ons gewerk. Rassie Erasmus maak dit egter maklik vir my. Ek word omring deur leiers soos Handré Pollard, Duane Vermeulen en Eben Etzebeth. Ons deel die leierskap.”

Die Bokke berei hulle vir die onverwagse voor teen ’n Engelse span wat onstuitbaar lyk en op pad na die eindstryd die verdedigende kampioen Nieu-Seeland platgevee het.

“Ons vertrou ons plan. Ons weet dat Eddie Jones ’n slim afrigter is, maar ons het in Rassie Erasmus ook een. Ook Rassie sal truuks in sy sak hê.”