Die Springbokke wil hul vordering as ’n span in Saterdag se Wêreldbeker-groepwedstryd teen die All Blacks in Jokohama meet.

“Ons werk baie hard en die enigste wyse om te sien of ons verbeter of nie, is om jouself te toets teen die beste ter wêreld,” sê Siya Kolisi.

“Dit het ons baie geloof en hoop gegee om die wedstryd verlede jaar te wen (36-34 in Wellington), en sedertdien het ons nie teruggekyk nie.

“Ons glo net ons kan beter en beter word. Dit is waarna ons streef. Hulle is strawwe teenkanting om jouself teen te toets, maar jy kan sien waar jy is as jy teen hulle speel.

“Dit is die toets waarin jy wil speel.”

Kolisi vind dit te moeilik om te sê wie ’n sielkundige voorsprong in Saterdag se kragmeting geniet.

“Dit is waarom hierdie toets regtig belangrik is om te sien waar ons as groep is. Jy weet nooit of ons hulle weer hierna sal ontmoet nie. Dit is ’n baie groot wedstryd.

“Ek sou nie sê ons of hulle het die sielkundige voorsprong nie, dit is 50-50 op die oomblik.”

Die Bok-kaptein volg die toetse tussen die Bokke en All Blacks al vandat hy ’n kind is.

“Hulle was voor die afgelope twee seisoene oorheersend gewees. Ons as ’n span moes veg om weer ’n bietjie respek terug te kry.”

Die 28-jarige Kolisi speel Saterdag in sy 44ste toets nadat hy in 2013 in Nelspruit sy toetsbuiging gemaak het.

Hy was al in ses toetse teen die All Blacks betrokke waarin die Bokke net in een aan die wenkant was.

Kolisi was 26 keer deel van die wenspan in sy vorige 43 toetse, in 15 aan die verloorkant en twee was gelykop.

Hy hoop sy ervaring, wat ook 115 wedstryde vir sy franchise, die Stormers, insluit, sal help in hom, Pieter-Steph du Toit en Duane Vermeulen se losstryd teen die All Blacks se Kieran Read, Ardie Savea en Sam Cane.

Hy ken Cane en Savea se spel goed, aangesien hulle vir ’n wyle teenstanders is.

“Ek en Sam Cane het in die o.20’s (Junior Wêreldtoernooi) gespeel, so ek ken hom al ’n geruime tyd. Ons gesels en leer ’n paar dinge van mekaar, maar jy kan nie wag vir die skeidsregter om jou te help by die afbreekpunte nie.

“Ardie het die meeste balbesit in Superrugby afgeneem, so ons sal dit (die afbreekpunte) self moet uitsorteer en vinnig daar moet aankom.”

Die All Blacks se losspel word juis deur Kolisi as een van die belangrikste redes uitgesonder waarom die Nieu-Seelanders verlede jaar ’n oorwinning van 32-30 oor die Bokke in Pretoria behaal het.

“Dit (afbreekpunte) is dus ’n groot fokuspunt, want dit (die toets) kan daar gewen en verloor word.”