Die Springbokke het lank beter op sosiale media as op die rugbyveld gevaar, voordat Rassie Erasmus dinge volgens Siya Kolisi verander het sedert hy verlede jaar as nasionale afrigter aangestel is.

Die Bok-kaptein, Kolisi, het nadat sy span Wallis Sondag met 19-16 in die Wêreldbeker-halfeindstryd in Jokohama geklop het, gesê Erasmus (Bok-hoofafrigter) se invloed is ’n vername rede waarom Suid-Afrika homself in ’n posisie bevind om moontlik die William Webb Ellis-trofee ’n derde keer ná hul sukses in 1995 en 2007 te wen.

“In die verlede het ons probeer om onsself met ons inskrywings op sosiale media op te bou,” het Kolisi gesê.

“Rassie het ons terug aarde toe gebring en gesê: “Jy moet eers goed speel, daarna sal al die ander dinge vanself volg”,” het Kolisi gesê.

Rugby moes vir Erasmus weer die belangrike ding onder spelers word, belangriker as hul hoeveelheid volgelinge of aantal likes wat hulle ná hul inskrywings op sosiale media-platforms kry.

“Dis lekker om te sien dat dinge bymekaar kom. Dit sal vir ons as ’n groep lekker wees om einduit te gaan.”

Faf de Klerk, Bok-skrumskakel, vier fees nadat sy voorhoede in die doodsnikke ’n skrum-strafskop afgedwing het teen Wallis en die wedstryd só finaal beklink het. Foto: Getty Images

Die Bokke kom Saterdag in Jokohama teen Engeland in die eindstryd te staan nadat Eddie Jones se span Saterdag ’n spogvertoning in sy halfeindstryd gelewer het deur die All Blacks met 19-7 af te stof.

Jones-hulle is ná hul vertoning die volslae gunstelinge. Hulle het ná die halfeindronde ook tot die eerste plek op die jongste wêreldranglys opgeskuif.

Suid-Afrika, wat vroeër die Rugbykampioenskap gewen het, beklee die tweede plek, nadat hy vanjaar nog net een keer geklop is.

Dít was toe die All Blacks hom met 23-13 in ’n groepwedstryd in Jokohama verslaan het. ’n Mens wonder egter of daardie uitslag dieselfde sou gewees het as Wallis se Nigel Owens tóé die blaser was.

Ook Erasmus is op Sondag se nuuskonferensie net ná die halfeindstryd gevra wat die groot verskil is sedert hy as Bok-afrigter aangestel is.

“Daar was eens ’n stadium in Suid-Afrika toe als net om ’n goeie salaristjek te verdien vir beroepspelers gedraai het,” het Erasmus gesê.

“Maar spelers verstaan as hulle ’n professionele rugbyspeler in Suid-Afrika wil wees, moet hulle regtig hard werk en nie net van een provinsie na die volgende provinsie beweeg en ’n goeie salaristjek verdien nie.

“Dié boodskap versprei stadig onder die unies en franchises. Die spelers druk mekaar nou werklik hard en die middelmatigheid is besig om uit om rugby te beweeg.

“Ons beweeg stadig nader aan die standaarde waar Skotland en Ierland die maksimum uit hul spelers haal, dieselfde met Nieu-Seeland.”

Erasmus het altyd geglo Suid-Afrika het die vermoë om weer ’n krag in wêreldrugby te wees, soos die geval altyd was.

“Selfs toe ons in 2015 se Wêreldbeker teen Japan verloor het (met Heyneke Meyer as afrigter), het ons teen Nieu-Seeland in die halfeindstryd gespeel en net met twee punte verloor.

“In 2011 het ons volgens my op omstrede wyse teen Australië in die kwarteindstryd verloor. In 2007 het ons gewen.

“In 2009 was ons nommer een in die wêreld. Ons was altyd daar of daar naby.

“In die laaste twee en ’n half jaar was die spelers werklik professioneel om eienaarskap van die betekenis om ’n beroepspeler te wees, te neem.”

Deur tot die eindstryd van vanjaar se Wêreldbeker deur te dring, beteken die wêreld vir Kolisi.

“Ons het werklik hard gewerk,” het die Bok-flank gesê.

“Rassie het verskeie spelers van verskillende unies al afgerig, hy ken ons dus en het ons as ’n groep saamgesnoer.

“Ons het ingekoop in sy plan. Hy het dit duidelik gestel dat die Springbokke die belangrikste ding is.”