“Siya! Siya! Siya!”

Met dié kreet het leerlinge aan die Grey High School in Port Elizabeth, die Springbok-kaptein Siya Kolisi se alma mater, hom en die Springbokspan sterkte toegewens met Saterdag se Wêreldbeker (WB)-eindstryd in Jokohama, Japan.

Die Springbokke en Engeland pak mekaar om die Webb Ellis-trofee.

Groot opgewondenheid heers onder die leerlinge sedert die Springbokke verlede week tot die eindstryd deurgedring het. Hulle het Vrydag uit volle bors skoolliedere op die sportveld gesing en die kreet vir Kolisi uitbasuin.

Van die leerlinge het ook die eindtelling voorspel en is dit eens dat die Bokke met die louere gaan wegstap.

Lathi Nqebe, prefek, sê om by dieselfde skool as Kolisi skool te gaan gee hoop aan leerlinge wat uit soortgelyke omstandighede kom. Hy sê Kolisi is ’n ware inspirasie vir almal by die skool.

“Ek wil vir Siya en die manne alles van die beste toewens met die eindstryd en ek hoop dat hulle die wedstryd geniet. Daar is sowat 57 miljoen Suid-Afrikaners wat bankvas agter julle staan en ook ons almal by die skool. Alles van die beste.”

Matthew Easton, hoofprefek, sê dit is ’n absolute eer om in dieselfde gange te stap as waar Kolisi as leerling gestap het.

“Dit gee ons hoendervleis as ons dink waarvandaan Siya gekom en wat hy bereik het. Van almal van ons by Grey en van die hele Suid-Afrika wens ons jou alles van die beste vir die eindstryd toe.”

Chris Erasmus, hoof, sê hulle sien uit daarna om te kyk hoe Kolisi en die Springbokke die Wêreldbeker omhoog hou.

“Siya, ek weet dat jy ons gaan trots maak die naweek. Ons staan almal agter jou.”

Hy sê ook skertsend die leerlinge dink nou almal aan Kolisi en nie aan hul eksamen nie.

Die skool se video aan die Springbokke sluit boodskappe in van Grey High-oudleerlinge wat vir die Sharks en die Cheetahs speel.

Jeremy Ward, wat vir die Haaie uitdraf, sê Siya is ’n inspirasie vir oudleerlinge en kinders wat nog op skool is.

Ward se spanmaat, Curwin Bosch, sê hy weet Siya en die span gaan Suid-Afrika trots maak.

Junior Pokomela van die Cheetahs sê almal staan bankvas agter Siya en die span.

Die tellings wat leerlinge in die Springbokke se guns voorspel het, is 20-19, 23-18, 28-25, 21-19, en 18-15.