“Ek voel fisiek goed en wil meer minute se speeltyd kry,” sê Siya Kolisi, Springbok-kaptein, op die laaste nuuskonferensie voor Dinsdag se Wêreldbeker-groepwedstryd teen Kanada in Kobe.

“My spelpeil raak beter en beter. Ek plaas baie druk op myself en soek altyd na meer werk op die veld om te doen.

“Ek dink net dit is beter vir my om meer te speel, al is dit soms lekker om te rus.”

Kolisi glo alles gaan om uitvoering vir sy span teen Kanada draai aangesien hulle nie in die Rugbykampioenskap teen die Kanadese speel nie en grootliks ’n onbekende faktor is.

“Eindelik kom dit daarop neer wat ons weekliks doen. Ons kyk altyd na ons vorige wedstryd en waarop ons kan verbeter.

“Jy kyk wel wat die ander spanne se aanvallende spelers doen en hoe hulle skop.

“Ons weet nie werklik wat om van hulle individuele spelers te verwag nie, daarom doen ons ons eie voorbereidings.”

Kolisi se vrou, Rachel, sal betyds hier aankom om die toets in Kobe se Misaki-stadion by te woon.

“Amper al ons families, vroue en meisies is hier. Ek is opgewonde om my vrou en kinders by die toets te hê,” sê die 28-jarige Kolisi wat in sy 47ste toets speel.

Francois Louw, een van Kolisi se flankmaats teen Kanada, verwag dat die Misaki-stadion se toedak ’n invloed op spel sal hê.

“Met ’n toedak sal die humiditeit-vlakke styg,” sê Louw.

“Ons wedstrydplan en strukture sal dieselfde bly. Of die dak oop of toe is, dit bly glad.

“Daar is groter klem op baldra en die afbreekpunte. Ons moet ’n goeie platform vir ons skakelpaar verskaf. Dis meer as ’n ingesteldheid as om net die bal te beskerm.”

Die 34-jarige Louw sien uit na die kans om in sy 73ste toets ’n lostrio saam met Kolisi en Kwagga Smith te vorm.

“Ons is eintlik almal sesflanke, so dis ’n interessante kombinasie wat aan die ontwikkel is.

“Ek speel deesdae baie agtsteman, ’n rol wat ek geniet.

“Ek en Siya het al baie saamgespeel, maar nog nie so baie saam met Kwagga nie.

“Ek is bly vir Kwagga dat hy homself in die span kon vestig, ’n plek in die beginspan kon kry en so goed in die Rugbykampioenskap kon doen.

“Kwagga is ’n taai speler. As ’n sewesspeler bring hy ’n nuwe dinamika na die tafel.

“Hy is goed in die losspel, maar geniet ook die taai situasies.

“Ek glo ons sal mekaar goed aanvul. Hopelik sal ons ’n goeie vertoning lewer.”