Skepdoele het ’n ryk geskiedenis in Wêreldbekertoernooie en kan van hier af vorentoe ’n belangrike wapen vir spanne insluitende die Springbokke in vanjaar se toernooi in Japan word.

Rassie Erasmus, afrigter van die Springbokke, hoef nie aan die belang van die skaars vorm van punte herinner te word nie.

Hy onthou nog goed hoe Stephen Larkham in 1999 se Wêreldbeker-halfeindstryd die Bok-span waarvan hy deel was met so woer-woer skepdoel van sowat 48 m uitgeskakel het.

’n Week vantevore het Erasmus-hulle se eerstekeuse-losskakel Jannie de Beer met ’n rekord van vyf skepdoele in die kwarteindstryd teen Engeland geslaag.

Daar is baie voorbeelde van skepdoele wat Wêreldbeker-wedstryde vir spanne gewen het.

Van die beroemdste is Joel Stransky s’n in bykomende speeltyd van die 1995-eindstryd om die Bokke met 15-12 oor die All Blacks te laat seëvier.

In agt jaar later se eindstryd het die koning van skepdoele, Jonny Wilkinson, Australië se harte gebreek met sy syne om Engeland met 20-17 te laat juig.

Wilkinson het volgens The Japan Times met ’n allemintige 36 skepdoele in sy 96 toetse geslaag.

Die Bokke het al hul rekening wat skepdoele betref in vanjaar se Wêreldbeker geopen toe Handré Pollard met een in die groepwedstryd teen die All Blacks in Jokohama geslaag het.

Erasmus het voor Vrydag se kragmeting met Italië in Sjizoeoka gesê hulle het al met verskeie scenario’s wat skepdoele in vanjaar se Wêreldbeker betref rondgespeel.

“Skepdoele is baie belangrik. In alle Wêreldbeker-wedstryde is elke enkele punt belangrik,” sê Erasmus.

“Ons hoop daar is ’n paar geleenthede daarvoor teen Italië.

“Handré het ’n goeie skepdoel teen die All Blacks behaal om hul voorsprong na 17-13 te verklein.

“Maar dit help nie jy behaal ’n skepdoel en jy maak nie dadelik daarna vinnig genoeg by ’n afbreekpunt naby aan hul doellyn skoon soos die geval teen die All Blacks was nie.”

Camille Lopez se skepdoel het Frankryk se sege van 23-21 oor Argentinië beklink. Foto: Getty Images

Die klem is sover vanjaar groter op skopwerk as in vorige Wêreldbekers aangesien die humiditeit hantering bemoeilik. In baie gevalle beskou spanne skopwerk as ’n wyse van aanval.

Skepdoele in besonder was ook al in twee toetse deurslaggewend in vanjaar se toernooi.

Camille Lopez s’n het Frankryk se sege van 23-21 oor Argentinië beklink.

Dan Biggar en Rhys Patchell het ook albei met skepdoele in Wallis se oorwinning van 29-25 oor die Wallabies geslaag.

Nog ’n skepdoel waaroor daar in vanjaar se toernooi gepraat word, was Stuart Hogg s’n van ongeveer 40 m in Skotland se sege van 34-0 oor Samoa.

Pollard het al gewys hoe groot wedstrydwenner hy is. Verskeie mylpale wink nou vir hom in vanjaar se Wêreldbeker.

Hy benodig net vier punte om 400 in sy toetsloopbaan te behaal. Hy is reeds die Bok-rekordhouer vir die meeste strafdoele, 23, in Wêreldbekers.

Die 25-jarige losskakel benodig ook 11 punte om Percy Montgomery se Bok-rekord van 111 punte in Wêreldbekers te oortref.