Hangskoppe, voetaangeë dwars oor die veld en die terugkeer van die magtige skepdoel.

Skopwerk was prominent in die vroeë rondes van die Wêreldbeker (WB)-toernooi in spanne se poging om teenstanders se toenemend aggressiewe verdedigingslinies te troef.

Die vorige rugbyskouspel in 2015 is oorheers deur spanne wat die bal deurlopend gedra het, selfs diep in hul eie helfte. Niemand was beter daarmee as die All Blacks nie, wat hul tweede agtereenvolgende Webb Ellis-trofee in Engeland verower het.

Spanne in Japan het egter teruggekeer na die skopskoen om aggressiewe opskietverdediging te vermy en sodoende foute te probeer beperk.

Daar was 61 skoppe in albei die twee grootste wedstryde sover – Nieu-Seeland t. Suid-Afrika en Australië t. Wallis – ’n groot hoeveelheid gegewe dat die bal eintlik slegs 40 minute lank in spel was.

“Almal bring lynspoed en daar word baie meer geskop as wat meeste spanne wil. Dit is waar die spel hom tans bevind,” sê Steve Hansen, afrigter van die All Blacks.

“Verdediging is koning, dit oorheers die spel. Hopelik is dit tydelik. Verdediging sal oorheers totdat iemand ’n resep vind om dit te verander en dan sal aanval terugkeer.”

Volmaakte voetaangeë deur Wallis se Dan Biggar en Bernard Foley van die Wallabies het gesorg vir drieë vir onderskeidelik Hadleigh Parkes en Adam Ashley-Cooper, terwyl Skotland sy driedroogte by die toernooi beëindig het danksy Finn Russell se skop aan Sean Maitland teen Samoa.

Ook die All Blacks se eerste drie teen die Bokke is met ’n aanvallende skop geskep.

“Ons beplan daarvoor en oefen ons skopwerk, dit is deel van ons vernuf op die aanval.”

Skepdoele is ook ’n kenmerk van spel vroeg in die toernooi. Skotland se Stuart Hogg was suksesvol met ’n poging van 40 m teen die Samoane, terwyl die Fransman Camille Lopez Argentynse harte met ’n kritieke skepdoel in die doodsnikke in die Hane se oorwinning van 23-21 gebreek het. Biggar en die plaasvervangerlosskakel Rhys Patchell het ook elk met twee skepdoele geslaag wat die verskil in Wallis se 29-25-oorwinning teen Australië gemaak het.

“Spanne verdedig deesdae baie goed en dit is moeilik om teenstanders 15 tot 20 m van hul eie doellyn af te klop,” sê Warren Gatland, Wallis se afrigter.

Patchell sê wanneer jy by ’n Wêreldbeker kom, dink almal drieë gaan vir jou die toernooi wen.

“Maar dit is skopwerk wat die deurslag gee: doelskoppe, strafdoele en skepdoele – en die vermoë om daardie punte te vat as jy die geleentheid kry.”

– Sportredaksie