Frankryk se spelers moet “hul afrigters uitskop” en volle beheer van die span neem as hulle enigsins ’n kans wil staan om vanjaar se Wêreldbeker-toernooi te wen.

Dit was Mourad Boudjellal, president van die Toulon-rugbyklub, se omstrede raad aan die Hane.

Boudjellal se uitspraak kom teen die agtergrond van berigte in die Franse media dat Frankryk se kaptein, Guilhem Guirado, en die Hane se hoofafrigter, Jacques Brunel, nie meer om dieselfde vuur sit nie.

“Jy’s daar ter wille van jou loopbaan en jou land. Jy’s daar vir Franse rugby en moet alles doen wat jy kan om hierdie Wêreldbeker te probeer wen – maar ons sal dít net kan vermag as julle (die spelers) beheer neem,” het die uitgesproke Boudjellal aan die Franse media gesê.

“Ek verstaan al vir jare lank nie die wedstrydplan van dié Franse span nie. Iets het skeefgeloop, so julle ouens moet beheer neem. Daar is spelers in dié groep wat in die toekoms nog prominente afrigters gaan word . . . skop die afrigters uit, want ons (die Franse rugbygemeenskap en -ondersteuners) is reg om julle te volg,” het Boudjellal aan die vooraand van Frankryk se laaste WB-groepwedstryd teen Engeland gesê.

Frankryk het vir groot dele van sy kragmeting met Tonga planloos voorgekom. Foto: Getty Images

Dié kragmeting Saterdag sal bepaal wie boaan Groep C eindig.

Boudjellal se pleidooi is gewis nie verregaande in die Franse konteks nie. In 2011, tydens die WB-toernooi in Nieu-Seeland, het die Franse spelers openlik teen die destydse afrigter, Marc Lievremont, gerebelleer ná nederlae teen Nieu-Seeland en Tonga in die groepfase.

Daardie span het ten spyte van die vertrouensbreuk tussen die spelers en afrigter daarin geslaag om die eindstryd te haal en het uiteindelik met ’n enkele punt teen die All Blacks verloor.

Brunel se span het in Japan sover naelskraapse oorwinnings oor Argentinië en Tonga behaal en hoewel hy Amerika met 33-9 geklop het, het die eindtelling hom ook gevlei.

Die Hane kom Saterdag om 12:15 in Jokohama teen Engeland te staan. Eddie Jones se span het sy eerste drie groepwedstryde oortuigend gewen en is die oorweldigende gunsteling om ook so teen die Hane te maak.

Toe dié spanne in Februarie vanjaar op Twickenham slaags was, het Engeland ’n weghol-oorwinning van 44-8 behaal.

– Reuters en Sportredaksie