Die Skotse Rugbyunie kan hom in die sop bevind nadat hy Wêreldrugby verlede week met hofaksie gedreig het toe daar sterk sprake was dat sy land se deurslaggewende Wêreldbeker-groepwedstryd teen Japan afgestel sou word.

Daardie kragmeting, wat in die weegskaal was weens die verwagte skade wat die supertifoon Hagibis sou aanrig, het toe wel plaasgevind, met Japan wat ’n roemryke oorwinning behaal het.

Maar Wêreldrugby het aanstoot geneem oor die uitsprake wat Mark Dodson, die uitvoerende hoof van die Skotse Rugbyunie (SRU), gemaak het toe daar ’n sterk moontlikheid was dat die wedstryd nie sou plaasvind nie. Dít sou daartoe gelei het dat Skotland uit die toernooi geskakel word sonder dat hy nog vir ’n plek in die kwarteind kon veg.

Dodson het onder meer gesê Skotland sal hom tot regsaksie wend om seker te maak die wedstryd gaan voort en het bygevoeg dat as Nieu-Seeland in Skotland se bootjie was, sou daar nooit sprake gewees het dat die wedstryd afgelas kon word nie.

Alan Gilpin, die hoof van die WB-reëlingskomitee, sê die uitsprake wat die Skotse Rugbyunie gemaak het, was strydig met wat toernooi-reëls en van deelnemende lande vereis en is derhalwe ná ’n onafhanklike dispuutkomitee verwys.  

Gilpin het ook lof gehad vir sy kollegas en Japanse owerhede wat, te midde van die verwoesting wat deur Hagabis in die Tokio/Jokohama-omgewing gesaai is, daarin kon slaag om die kragmeting te laat voortgaan en bykans 67 000 toeskouers veilig in en uit die stadion kon kry.

Japan se spelers vier hul geskiedkundige oorwinning oor Skotland. Foto: Getty Images

“Om enige wedstryd van daardie aard aan te bied, is ’n geweldige ingewikkelde taak, maar om dit boonop onder sulke omstandighede te kon doen, is merkwaardig,” sê Gilpin.

“Daar was baie vrywilligers en ander mense wat Sondag by die stadion gewerk het, wie se huise kort vantevore deur die tifoon verwoes is. Hul bereidwilligheid om nietemin voort te gaan met hul verpligtinge, verdien ons applous.”

Bill Beaumont, voorsitter van Wêreldrugby, het ook die reëlingskomitee vir sy werk geloof en sê Japan se oorwinning oor Skotland (28-21) “was vir ’n nasie, nie net rugby nie”.

Wêreldrugby sê intussen Asië se eerste WB-toernooi bly rekords oortref. Meer as 1,8 miljoen kaartjies is reeds vir wedstryde verkoop (99% van die beskikbare kaartjies), 863 000 mense het reeds ondersteunersparke besoek en 200 000 Japanse replikatruie is reeds verkoop.

Brett Gosper, uitvoerende hoof van Wêreldrugby, het ook bevestig dat meer as 50 miljoen mense Sondag se wedstryd op TV dopgehou het. – Reuters