Skotland sal oorloop van selfvertroue ná sy weghol-oorwinning in sy Wêreldbeker-stryd teen Rusland Woensdag, maar weet Sondag is dit die ware Jakob.

Die Skotte het Woensdag nege drieë ingeryg om die Russe in die twee spanne se kragmeting in Groep A met 61-0 in Sjizoeoka te klop. Met die bonuspunt-oorwinning het die Skotte hul kanse om die uitspeelrondes te haal lewend gehou.

Skotland (tien punte) kom Sondag teen Japan, wat eerste in die groep op 14 punte is, te staan. Slaag Skotland daarin om die Brave Blossoms met ’n bonuspunt te troef en tuisspan kry geen bonuspunte nie, sal die Skotte deurdring. Maar daar is ook verskeie ander permutasies.

Ten spyte van die oorwinning oor die Russe, wat op die oog af maklik gelyk het, sê Gregor Townsend, afrigter van die Skotte, dit was nie die geval nie.

Die telling wys dit nie, maar die moeite wat ingegaan het om daardie telling te kry en die druk op Rusland se verdedigers te plaas, was massief.
Gregor Townsend

“Die telling wys dit nie, maar die moeite wat ingegaan het om daardie telling te kry en die druk op Rusland se verdedigers te plaas, was massief.

“Dit was wonderlik om die bonuspunt te kry, ons het geweet daarsonder sou Sondag baie moeiliker gewees het.”

Die Skotte het nou in hul laaste twee wedstryde, teen Samoa (34-0) en Rusland (61-0) nie ’n enkele punt afgestaan nie.

“Dit is goed vir die spelers se selfvertroue dat ons nou in twee wedstryde nie punte afgestaan het nie – dit is bemoedigend.

“Ons fokus is nou daarop om te herstel en seker te maak dat ons voorbereiding en spankeuse vir die wedstryd (teen Japan) reg is.

Die Skotte se afrigter, Gregor Townsend. Foto: Getty Images

“Ons het baie na Japan (se wedstryde) gekyk en weet hulle het dieselfde met ons gedoen. Ons sal net moet seker maak dat ons ons beste vertoning lewer – wel, ons sal moet, omdat Japan ’n baie goeie span is,” sê Townsend.

Gepraat van spankeuses, die losskakel Scott Hastings het ’n blink vertoning teen die Russe gelewer, hoewel hy na verwagting nie in die span gaan wees wat Japan pak nie.

Daar is ook ’n moontlikheid dat Sondag se kragmeting in Jokohama weens ’n tifoon afgelas kan word – wat die doodskoot vir die Skotte se kanse om die kwarteind te haal, kan wees.

Die reëls van die toernooi bepaal dat groepwedstryde nie geherskeduleer kan word nie, tog glo Townsend die ringkoppe van Wêreldrugby kyk na ander opsies.

“Dit lyk asof dit (die tifoon) Tokio teen die naweek gaan tref. Wêreldrugby sal ons die volgende twee dae op hoogte bring met wat die gebeurlikheidsplanne is.

“Ek is seker daar word gekyk na ander stadions en reëlings, nie net vir ons wedstryd nie, maar ook vir Engeland en Frankryk, wat die vorige aand in dieselfde stadion speel,” sê Townsend. – Reuters