Die Skotse Rugbyunie (SRU) is met £70 000 beboet nadat hy Wêreldrugby met regsaksie gedreig het in die Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Mark Dodson, uitvoerende hoof van die Skotse Rugbyunie. Foto: Getty Images

Wêreldrugby was nie ingenome met opmerkings van Mark Dodson, uitvoerende hoof van die SRU, voordat die tifoon Hagibis Japan tydens die toernooi getref het nie. Daar was – in die dae toe dié supertifoon Japan genader het – sprake dat Skotland se kragmeting met Japan afgelas sou word. Dít sou die Skotte se kanse om die uitspeelrondes te haal, summier beëindig het.

Die wedstryd is wel gespeel, met die Brave Blossoms wat met 28-21 gewen het, en Skotland wat toe in elk geval huiswaarts moes keer.

Dodson het met regsaksie gedreig om te verseker dat die wedstryd wel voortgaan. Hy het gesê dat ’n wedstryd van Nieu-Seeland nooit afgelas sou word as hy van ’n sege afhanklik was om vir die uitspeelrondes te kwalifiseer nie.

Maar die SRU is nou in ’n onafhanklike verhoor deur Christopher Quinlan (Engeland), Adam Casselden (Australië) en Nigel Hampton (Nieu-Seeland) aan wangedrag skuldig bevind, luidens ’n verklaring van Wêreldrugby.

Die twee aanklagte waarop die SRU tereg gestaan het, is opmerkings deur Dodson aan Britse publikasies en tydens Skotland se spanaankondiging op 11 Oktober. En ook opmerkings deur ’n woordvoerder van die SRU, wat op 11 en 12 Oktober gemaak is.

Wêreldrugby glo dié uitsprake, wat suggereer dat die Skotte onregverdig behandel is, is totaal onvanpas in ’n tydperk wat Japan die ergste tifoon in dekades moes trotseer.

In die verhoor is daar bevind dat die opmerkings deur Dodson die spel in oneer gebring het. Nie net omdat dit Wêreldrugby se hantering van die omstandighede gekritiseer het nie, maar ook omdat dit uiters onsensitief teenoor die Japanse bevolking was.

Op die tweede aanklag was daar nie voldoende bewyse dat die SRU hom aan wangedrag skuldig gemaak het nie.

Behalwe vir die boete is die SRU ook berispe vir sy optrede en moet hy Wêreldrugby skriftelik om verskoning vra vir sy optrede.

Voordat die komitee sy beslissing gemaak het, is die SRU en Wêreldrugby die geleentheid gegee om die dispuut te besleg. Tog wou die SRU nie aanvanklik verskoning vra vir sy gedrag nie.

Die geld wat die SRU moet betaal sal geskenk word aan ’n welsynsprogram wat help om verligting te bring in die gebiede wat die ergste deur tifoon Hagibis getref is. – Sportredaksie