As daar ooit ’n goeie tyd is om die voorste span op die wêreldranglys te klop, moet dit wees voordat hy op al sy suiers vuur.

So sê die Skotse heelagter Stuart Hogg voor Sondag se groot kragmeting met Ierland in die Wêreldbeker (WB)-rugbytoernooi in Japan.

Die Iere het vroeër vandeesmaand ná ’n tweede oorwinning oor Wallis die nr. 1-span op die wêreldranglys geword, maar word tog nie as een van die voorste aanspraakmakers in Japan beskou nie. Dít nadat Ierland vrotterig in die Sesnasies-reeks vertoon het en onlangs behoorlik deur Engeland (57-15) afgeransel is.

Om sake te vererger, sukkel ’n paar van die Iere se voorste spelers met hul spelpeil en is daar boonop onsekerheid oor die beskikbaarheid van die heelagter Rob Kearney vir Sondag se kragmeting. Die Ierse senter Robbie Henshaw sal straks ook weens ’n besering nie teen die Skotte speel nie.

Hogg glo dit is juis dié omstandighede wat Skotland tot sy voordeel kan gebruik om sy veldtog op ’n hoogtepunt af te skop.

“In toetsrugby is daar nie iets soos ’n maklike wedstryd nie, maar as daar ooit ’n tyd is om Ierland slae te gee, is dit nou, voordat hulle spoed optel,” sê hy.

“Maar selfs al moet hulle ’n paar minder ervare spelers teen ons in die veld stoot, is dit steeds vir ons ’n reuse-uitdaging.”

Daar hang ’n wolk van onsekerheid oor die heelagter Rob Kearney se beskikbaarheid vir Sondag se kragmeting. Foto: Getty Images

Die Skotte het natuurlik ’n punt om te bewys, nadat hulle op omstrede wyse tydens 2015 se WB-toernooi nie die halfeind kon haal nie. Australië het toe in die doodsnikke van dié twee spanne se kwarteindstryd ’n strafdoel deur die pale gejaag.

Boonop is Skotland, wat selde in dieselfde sin as flair genoem word, straks die beste in jare voorberei vir die skouspel, wat elke vier jaar beslis word. Die Skotte kan tans teenaanvalle uit omtrent elke uithoek van die veld loods.

Tog sê Hogg dat sy span se spel sónder die bal in die hand kritiek vir hul kanse in Japan sal wees.

“Ons glo verdediging sal die WB wen – iets waaraan ons baie hard gewerk het sedert ons in Junie saamgetrek het. Ons fokus is op onsself, om te verseker dat ons nie ons eie grootste vyand is en te veel simpel foute maak nie. Daar mag dalk vyf of ses geleenthede vir ons in ’n wedstryd wees om punte aan te teken en ons moet dit klinies benut,” sê Hogg.

Sy spanmaat Sam Johnson verwag ’n fisieke aanslag van die Iere, maar voeg by dat die Skotte nie daardeur ontsenu sal word nie.

“Ons is vol vertroue, ten spyte daarvan dat hulle die voorste span ter wêreld is. Ons speel in ’n ander land, so dit maak die speelveld gelyk, maar ons sal sien wat die weerstoestande is,” sê Johnson.

“Hulle gaan baie staatmaak op hul taktiese skopwerk, veral as dit nat gaan wees.” – Reuters