Die lang wag is uiteindelik verby ... die Wêreldbeker-toernooi in Japan het begin!

Vier maer jare het verloop sedert die Springbokke in Engeland met ’n derde plek in rugby se grootste skouspel tevrede moes wees. Sal ons dan ooit daardie nagmerriebegin in Brighton vergeet?

Tog ...

Sewe soorte sweet is sedertdien gesweet. Baie Bok-bloed het gevloei. Twee afrigters het gekom en gegaan voor Rassie Erasmus op 1 Maart 2018 die leisels oorgeneem het.

Durf ons hoop? Moet ons glo? Kan die wêreldkroon die eerste keer sedert 2007 weer ons s’n wees?

Ja, beslis. Skuimkop wil voor die Bokke se eerste groepwedstryd teen Nieu-Seeland twee redes verskaf hoekom ons positief móét wees:

1. Die All Blacks is kwesbaar. Die wêreldkampioen was onaantasbaar in 2011 en 2015. Dis steeds vanjaar dié span om te klop, maar die vreesfakor wat die Kiwi’s tradisioneel as bykomende (sielkundige) wapen speelveld toe gebring het, het nie meer dieselfde impak op uitdagers uit die noorde en suide nie.

2. Einste Rassie, ’n uitgeslape strateeg wat uit die staanspoor die spelers by al sy planne betrek het. Elkeen weet wat sy rol gaan wees, van die werkesel in die voorlinie, tot die renperd wat moet afrond.

Hy het diepte in sleutelposisies bewerkstellig. Hy het ’n gemeenskaplike, onwrikbare selfvertroue ontkiem.

Suid-Afrika is dalk nie so ’n groot gunsteling soos Nieu-Seeland of Engeland nie.

Maar ons het gewis ’n span om mee rekening te hou. Met Rasman wat die toutjies trek, is die Bokke vanjaar ’n onvoorspelbare aanspraakmaker. En dít kan teenstanders ontsenu.

* Skuimkop wens die afrigter en die 31 uitverkorenes wat elke Suid-Afrikaner verteenwoordig, sterkte toe vir die komende ses weke. Maak ons trots, Bokke. Tot en mét Saterdag, 2 November.

SAUK slaan bal aan

’n Wêreldkroon sal – nes in 1995 en 2007 – broodnodige salf en pleisters wees vir die seer- en kneusplekke wat Suid-Afrikaners mekaar nog so dikwels onderling toedien.

As daar nou entrepreneurs is wat die komende ses weke spreekwoordelik pap kan skep terwyl dit spreekwoordelik pap reën, is dit eienaars van restaurante, kroeë, sjebiens en soortgelyke ondernemings.

Al wat jy nodig het is ’n grootskerm-TV of projektordoek wat iewers sentraal staangemaak is, genoeg voorraad om die dorstiges ’n les te leer en ’n paar Wêreldbeker-“specials” op die spyskaart.

O ja, en natuurlik DStv se premium-kykpakket, aangesien SuperSport die enigste kanaal in Suid-Afrika is wat WB-wedstryde sal uitsaai.

So hier is ’n pepermentjie om aan te suig: net 1,5 miljoen Suid-Afrikaanse huishoudings uit ’n totaal van nagenoeg 14,5 miljoen is op dié pakket ingeteken.

MultiChoice kan sekerlik nie verkwalik word vir dié strategie nie. Hy moes immers groot geld uitgee om die uitsaairegte te bekom en beter lokaas vir nuwe intekenare gaan jy moeilik kry.

Die probleem lê veel eerder by ons staatsbeheerde uitsaaier. Die SAUK, sou jy dink, beplan deeglik sy begroting jare vooruit om die grootste sportgeleenthede na die meeste mense te bring: die Olimpiese Spele, atletiek se Wêreldbyeenkoms, sokker se Wêreldbeker-toernooi, rugby s’n?

Ja, flou grappie.

“Deeglike beplanning” en “SAUK” hoort kennelik nie in dieselfde sin nie. Trouens, sommige kwaadstokers sê as sinonieme vir “wanbestuur” en “korrupsie” kan “SAUK” sterk oorweeg word.

Die verskoning dat dit nie finansieel regverdig kan word om die regte te bekom nie, is onoortuigend.

As die SAUK se bemarkingspan sy werk gedoen het, sou hy oorvloedige advertensie-inkomste kon genereer om die koste te dek en selfs nog ’n wins te maak.

Hoe moeilik kan dit wees om ’n adverteerder te oortuig om sy produk te verkoop tydens ’n Springbok/All Black-wedstryd. En nog meer so as die Bok-span die diversiteit van die land weerspieël en boonop deur ’n inspirerende kaptein gelei word.

Die SAUK het ’n verpligting om die land se mense toegang te gee tot sportgeleenthede soos dié, wat soveel kan doen om broodnodige nasiebou aan te wakker.

Dis in nasionale belang.

As daar geld in die staatskas is om steierende staatsondernemings soos die SAL aan die gang te hou, was daar sekerlik ’n paar los rande by die tesourie om minstens darem vir die Springbokke se wedstryde te betaal.

* Intussen moet jy maar jou vriend, oom, broer, swaer of skoonsuster met ’n DStv-premiumpakket waarsku dat jy sy of haar drempel gaan deurtrap in die komende ses weke.