Ek vertrou hom nie, sê buurman vandeesweek ewe skielik hier van agter.

Dít, terwyl Skuimkop diep ingedagte blare doelloos in die agtertuin met die hark rondstoot en hom voorstel hoe RG Snyman in die doodsnikke deur die Engelse verdedigers stormloop en met een los hand die bal na Malcolm Marx uitwip, wat langs die linker-regoppaal die wendrie druk.

Die oorblufte uitdrukking op Skuimkop se gesig het hom nie verbygegaan nie, daar waar hy met die skurwe elmboë op die tuinmuurtjie leun, so naby dat ’n mens die rooi aartjies op sy wange en neus kan sien, fyn Skotse voetpaadjies.

Chuck Norris se raad aan Faf.
wbb
Hoe Willie le Roux die bal gaan vang.

Hy het die halfgerookte Chesterfield met ’n vaardige beweging van die tong na die hoek van sy mond gestuur en herhaal: “Daai Eddie Jones. Ek vertrou hom nie.”

En toe, asof hy dié stelling met ’n feit wou staaf: “Sy oë sit heeltemal te na aan mekaar.”

Nou kyk, buurman is geen rugbykenner nie. Hy ondersteun sy hele lewe lank al die Blou Bulle. Seker dié dat hy naweke en meeste weeksdae menere Justerini & Brooks aan’t huis onthaal.

En ofskoon die posisionering van Eddie se oë hom beswaarlik onbetroubaar maak, moet buurman gelyk gegee word dat Engeland se rugbybreier ’n ou jakkals is. Vol skelmstreke en slinkse plannetjies. ’n Mens kan dus te wagte wees dat hy ’n paar truuks in die binnesak het vir Saterdag se Wêreldbeker (WB)-eindstryd.

En ofskoon die posisionering van Eddie se oë hom beswaarlik onbetroubaar maak, moet buurman gelyk gegee word dat Engeland se rugbybreier ’n ou jakkals is.

Maar hier is die feite: Maak nie saak hoe goed Engeland is nie (en glo gerus, hy ís!), ongeag die feit dat die Rose as volslae gunsteling teen ons Springbokke sal aantree, gaan die druk van ’n eindstryd die speelveld gelyk maak.

Ons is nie verniet in die pylvak nie.

Die spelers het onwrikbare geloof in die strukture en wedstrydplan wat Rassie Erasmus en sy afrigtingskorps geskep het. Dis dalk nie so aanskoulik nie, maar dit wérk. Dit het Suid-Afrika tot op die drumpel van ’n derde WB-kroon gebring.

Nou nog net 80 minute, ouens. Dis wat ons nou van julle vra.

Delf diep, bring hulde aan die staande helde van 1995 en 2007. Bring hulde aan Ruben Kruger, Joost van der Westhuizen, James Small en Chester Williams, wat ons sedertdien ontval het.

Laat uitgeslape Eddie maar ’n Japannees opdress soos Faf de Klerk om die Engelse met box kicks te toets, laat hy maar sy kopspeletjies speel. Bring daai twee bulflanke van hulle, gee vir Maro Itoje of Billy Vunipola die bal… die Springbokke sal vuur met vuur beveg.

En as monsieur Garcès Saterdagmiddag skuins voor vuurmaaktyd die eindfluitjie blaas en die bloed, sweet en trane het in Jokohama se gras weggesypel, weet een ding: Ons is tróts op julle, Bokke.

* Julle het ons weer ’n opflikkering van hoop gegee, iets wat álle Suid-Afrikaners so desperaat nodig het.

SDEF
Gegroet, ou maat, sien julle oor 4 jaar in die WB-toernooi.
Einde van die pad vir die Swart Masjien. Waardige kampioene vir twee toernooie, maar geweeg en te lig bevind teen Engeland.Foto: Gallo Images
wbbb
Die nood in Nieu-Seeland.

In rou gedompel

Skuimkop het die All Black-ondersteuners erg jammer gekry na hul span se loesing in die halfeind. Wel, die Nieu-Seelandse All Black-ondersteuners, moet ’n mens byvoeg.

Die juigkommando van die Cape Crusaders en soortgelyke plaaslike ondersteuners van die span in swart was verbasend stil ná die wedstryd. Dit nadat daar vooraf groot lawaai gemaak is oor die All Blacks se groepstrydoorwinning oor die Bokke en hoe dié span vanjaar die derde Webb Ellis-trofee op ’n streep gaan wen.

Die lotjie sal seker Saterdag die Rose ondersteun, al is dit die span wat hul geliefde AB’s uit die toernooi geboender het. Verblydend vir Skuimkop was egter die klomp positiewe boodskappe van gebore Nieu-Seelanders wat Saterdag vir die Springbokke skree.

* Dis Suid teen Noord, ouens. Ons moet die Rose pluk, ook namens die All Blacks.

En sal jy ’n tweedehandse motor by dié man koop? Thabang Moroe, KSA-grootbaas, het skynbaar baie om oor te glimlag. Foto: Gallo Images

Moroe-moeras

Kan iemand by die Internasionale Krieketraad asseblief ingryp en die morsige bestuursituasie in Krieket Suid-Afrika se geledere probeer beredder?

Soveel van onbeholpe geploeter in ’n sportliggaam se raadsaal is lanklaas gesien.

Thabang Moroe, die beheerliggaam se grootbaas, is kennelik uit sy diepte. Politiekery, inmenging by spanbesluite, die onverwagse skorsing van senior bestuurslede… net enkele van die mistastings waaraan Moroe homself skuldig gemaak het.

’n Vis vrot van die kop af, sê hulle mos.

* ’n Mens kan seker nie verwag dat jou nasionale span met enige vertroue in die wêreldarena gaan aantree as sy administrateurs nie weet of hulle kom of gaan nie.