Reece Hodge se “baie goeie” dissiplinêre rekord het hom Woensdag van ’n skorsing van ses weke gered, maar hy sal steeds nie weer ’n groepwedstryd vir die Wallabies in vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi mag speel nie.

Dié Wallaby-blits is ná ’n tugverhoor in Tokio wat vier ure geduur het. skuldig bevind aan vuilspel vir sy gevaarlike duikslag op Fidji se Peceli Yato in die afgelope Saterdag se Groep D-wedstryd in Sapporo.

Hy is gevolglik vir drie weke geskors.

Dis ’n gevoelige terugslag vir die Wallabies om Hodge kwyt te wees voor Sondag se groot wedstryd teen Wallis. Hy gaan ook die groepwedstryde teen Uruguay en Georgië – onderskeidelik op 5 en 12 Oktober – misloop.

Wêreldrugby het in ’n nuusverklaring bevestig dat Hodge in die wedstryd teen die Fidjiane ’n rooikaart moes gekry het, maar die toepaslike straf is gehalveer vanweë sy “baie goeie dissiplinêre rekord, goeie karakter en optrede by die verhoor”.

Hodge mag binne 48 uur van die uitspraak appelleer.

Tot en met die gevaarlike duikslag in die 26ste minuut was Yato die mees invloedryke speler op die veld. Hodge het hom sonder arms geduik en sy kop getref, waarna die Fidjiaan die veld permanent moes verlaat. Hy kon weens harsingskudding nie in Woensdag se nederlaag teen Uruguay speel nie.

Die uitspraak dat Hodge ’n rooikaart moes gekry het, is vir Wêreldrugby ’n verleentheid. Hulle gaan straks wéér bloos nadat die Samoane Rey Lee-Lo en Motu Matu’u uitgewys is vir gevaarlike duikslae in hul wedstryd teen Rusland die afgelope Dinsdag.

Albei het in die eerste helfte van Samoa se sege van 34-9 geelkaarte gekry.

* Intussen het Wêreldrugby die Suid-Afrikaanse sportwetenskaplike Ross Tucker, wat vir hom as konsultant by die WB-toernooi werk, aangesê om ’n twiet te verwyder waarin hy gesê het dat die voorval ’n rooikaart regverdig het.

Fidji se spelers het die skeidsregter, Ben O’Keeffe, gevra om die voorval na die TV-skeidsregter, Rowan Kitt, te verwys. Kitt het nie ’n probleem met die duikslag raakgesien nie.

Tucker, wat invloedryk is in Wêreldrugby se veldtog teen harsingskudding, het onmiddellik sy teleurstelling op die sosiale netwerk Twitter verwoord.

Hy het onder meer gesê dat daar met die kop kontak gemaak is en dat dit ’n rooikaart sonder versagtende omstandighede teen Hodge moes gewees het. – Reuters en foxsports.