Die All Black-ster Sonny Bill Williams is genoop om verskoning te vra aan ’n Maleisiese fotograaf vir ’n foto wat hy op Instagram gedeel het sonder om die fotograaf krediet te gee.

Die foto, wat wys hoe Williams en Ofa Tu’ungafasi – sy spanmaat en mede-Moslem – bid voor die toets teen die Bokke, is vinnig deur Instagram verwyder weens kopieregkwessies.

Williams het Instagram gekontak en gevra waarom die foto verwyder is.

“Sekerlik is ’n eenvoudige foto van iemand wat sy dank uitbeeld vir die seën wat hy ontvang, oukei?”

Maar toe hy besef die probleem was dat hy die foto geplaas het sonder om die fotograaf, Faiz Azizan, krediet te gee, het Williams dit vinnig weer gedeel en Azizan se naam ingesluit.

“As-Salaam-alaikum (vrede vir jou) broer, vergewe my asseblief vir die misverstand,” het Williams gesê.

“Die foto is aan my gestuur met jou naam reeds verwyder, as ek dit geweet het voordat ek dit gedeel het sou ek jou krediet gegee het, want jy het ’n pragtige oomblik vasgevang.”

Williams het hom in 2008 tot Islam bekeer, terwyl Tu’ungafasi die geloof aangeneem het nadat 51 Moslems doodgeskiet is in ’n aanval op twee moskees in Nieu-Seeland verlede jaar.

– Sportredaksie