Die Springbokke sal Italië met vier slotte, Lood de Jager, RG Snyman, Eben Etzebeth én Franco Mostert, in Vrydag se Wêreldbeker-groepwedstryd in Sjizoeoka pak.

Rassie Erasmus, afrigter, het besluit om De Jager vir sy goeie spel teen Namibië met ’n plek in sy eerstekeuse-span teen Italië te beloon.

De Jager, Beast Mtawarira, Bongi Mbonambi, Lukhanyo Am en Makazole Mapimpi is die spelers wat hul plekke in die beginspan ná die oorwinning van 57-3 oor Namibië in Toyota behou het.

De Jager en Vincent Koch se insluiting is die enigste veranderinge aan die Bokke se 23-tal wat in Jokohama teen die All Blacks gespeel het.

Die 26-jarige De Jager is in Mostert se plek in die Bokke se sogenaamde A-span gekies.

Met Jesse Kriel wat weens ’n dyspierbesering nie oorweeg is nie, het Mostert na die bank geskuif, wat teen Italië uit ses voorspelers en net twee agterspelers bestaan.

Dís ’n aanduiding dat die Suid-Afrikaners ’n hoë agting vir die Azzurri se agttal het.

Die 29-jarige Koch vervang die beseerde Trevor Nyakane in die A-span, wat weens ‘n kuitspierbesering reeds terug in Suid-Afrika is.

Mtawarira en Mbonambi begin weer vir ’n slag die toets in die A-span teen Italië nadat hulle plaasvervangers teen die All Blacks was.

Hulle roteer met Steven Kitshoff en Malcolm Marx, van wie daar Vrydag verwag word om ’n groot impak van die bank teen Italië te maak.

Erasmus het sy agterlyn wat in Jokohama teen die All Blacks gespeel het onveranderd vir die toets teen Italië gelaat.

Handré Pollard het gesê die ruskans wat ’n paar van die A-spanspelers teen Namibië gekry het, was goed vir hulle lywe.

“Dit lyk of die toets teen Italië in nat toestande gespeel sal word, wat dit bietjie moeiliker sal maak,” het Pollard gesê.

Reën word van Donderdag in Sjizoeoka voorspel.

“Ons is reg vir die uitdaging. Ek, Faf (de Klerk) en Willie (le Roux) sal die spel moet beheer en verseker dat ons op die regte plekke van die veld speel.

“Ons moet ook die geleenthede wat ons skep, afrond en in punte omskep

“Dis egter geen geheim dat dit voorlangs ’n reuse-stryd gaan wees nie.

“Ons benodig net fyn verstellings ná die toets teen die All Blacks. Die belangrikste is dat ons meer akkurraat in ons uitvoering moet wees.”

Op ’n vraag of hy ’n paar skepdoele beplan, het Pollard met ’n breë glimlag geantwoord dat ’n mens maar tot in Vrydag se toets moet wag om te sien.

“Ek voel die spelers is goed voorbereid op die druk in die toets. Ons het in vorige toetse vanjaar en verlede jaar die druk op onsself vermeerder om gereed vir ’n week soos hierdie te wees. Die Rugbykampioenskap het ons ook goed voorberei.

“Ons het ná die All Black-toets geweet ons moet nou ses uit ses wen.”

Pollard het gesê hulle het kennis geneem van die tendens in die Wêreldbeker waar die grootste hoeveelheid drieë van skoppe behaal is.

“Japan is waarskynlik die enigste span (in die Wêreldbeker en in die humiditeit) wat die bal vir 15 of 16 fases kan behou. Ons is darem nou self lank hier en is voorbereid daarop.

“Ek verwag soos die Wêreldbeker vorder dat dit ’n neiging sal word dat spanne minder met die bal sal speel en eerder al hoe meer sal skop.

“Die humiditeit sal wel in die uitkloprondes verbeter en die temperatuur daal, maar die druk vermeerder dan en daar is meer op die spel. Niemand sal dan foute wil maak nie en eerder op skopwerk wil staatmaak.”

Bok-span: Willie le Roux (57 toetse), Cheslin Kolbe (11), Lukhanyo Am (11), Damian de Allende (42), Makazole Mapimpi (10), Handré Pollard (43), Faf de Klerk (26), Duane Vermeulen (50), Pieter-Steph du Toit (51), Siya Kolisi (k, 45), Lood de Jager (41), Eben Etzebeth (81), Frans Malherbe (33), Bongi Mbonambi (31), Beast Mtawarira (113). PLAASVERVANGERS: Malcolm Marx (28), Steven Kitshoff (42), Vincent Koch (16), RG Snyman (18), Franco Mostert (34), Francois Louw (71), Herschel Jantjies (6), Frans Steyn (62).