Die senter Manu Tuilagi was Sondag die groot uitblinker in Engeland se eerste kragmeting by vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan, al was dit alles behalwe ’n inspirerende vertoning deur Eddie Jones se troepe.

Engeland het Tonga met 35-3 in hul kragmeting in Groep C in Sapporo geklop. Benewens Tuilagi se twee drieë, het hy sterk met die bal in die hand vertoon en meters veld vir sy span gewen.

Maar die Engelse het eers in die 24ste minuut hul eerste drie gedruk en het strafskoppe by die afbreekpunte afgestaan en ’n magdom hanteerfoute begaan.

Hoewel Tonga nooit regtig gelyk het of hy drieë kan druk nie, het veral sy flanke, Fotu Lokotui en Sione Kalamafoni, ’n paar klipharde duikslae op die Engelse uitgevoer.

Maar dit was of die Engelse veral aanvanklik ’n wedstrydplan wou speel wat nie gewerk het nie en ook nie kon aanpas nie.

Spelers soos Engeland se heelagter, Elliot Daly, en vleuel Anthony Watson het gevaarlik gelyk met die bal in die hand, maar het hopeloos te min van die bal gesien.

Die besluitneming agterlangs het ook by tye gelol soos toe die senter Owen Farrell in die eerste helfte met sy span op die aanval en spelers aan sy buitekant verkies het om ’n rolskoppie te skop.

Hoekom die Engelse ook nie meer hul groot baldraers voorlangs soos die agtsteman, Billy Vunipola, ingespan het om die Tongane pap te maak nie, sal net Jones weet.

Ná een van die soveelste foute deur Engeland, het die kamera ’n duidelik gefrustreerde Jones afgeneem waar hy met sy hand twee keer hard op die blad voor hom gehamer het.

Engeland se plaasvervanger-haker, Luke Cowan-Dickie, het kort voor die einde oorgeduik vir die bonuspuntdrie, wat Jones seker breed laat glimlag het, tesame met sy spel se vertoning op die verdediging.

’n Speler soos die slot Maro Itoje het sy waarde onderstreep met sy hoë werksverrigting. Behalwe vir sy spel met die bal in die hand, het hy ook ’n lynstaanbal op Tonga se ingooi gegaps.

Puntemakers:

Engeland 35 (18) Drieë: Manu Tuilagi (2), Jamie George, Luke Cowan-Dickie. Doelskoppe: Owen Farrell (3). Strafdoele: Farrell (3)

Tonga (3): Strafdoel: Sonatane Takulua.