As daar een speler in Engeland se rugbyspan is wat weet wat dit verg om die All Blacks te klop, is dit die ervare skrumskakel Ben Youngs.

Dat hy in die span is, is trouens ’n goeie voorbode vir die Rose voor Saterdag se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Nieu-Seeland.

Hy en sy broer, Tom (haker), het in 2012 albei vir Engeland gespeel toe hulle die Kiwi’s met 38-21 verslaan het.

Hul pa, Nick, ook ’n skrumskakel, het in 1983 vir die Engelse gespeel toe hulle die All Blacks met 15-9 geklop het.

Dít is ’n indrukwekkende prestasie vir die Youngs-gesin, gegewe dat Engeland die All Blacks nog net sewe keer in 41 toetse kon troef en net een keer die afgelope 16 jaar.

Is dit dus in die familie se DNS om die All Blacks te klop?.

Ben Youngs se pa, Nick, ook ’n skrumskakel, gee die bal uit in Engeland se wentoets teen die All Blacks in 1983. Foto: Getty Images

"Die ou man het dit ook vermag. Wie weet, ons sal moet wag en sien,” het Ben Woensdag gesê.

Hy meen dit is waardevol dat verskeie van sy spanmaats in 2017 betrokke was by die Britse en Ierse Leeus se toer in Nieu-Seeland (die toetsreeks het gelykop geëindig).

“Daardie ervaring help en ook dat ’n paar van ons weet hoe dit voel om teen hulle te wen.”

Ben sal Saterdag in sy 94ste toets vir Engeland speel, terwyl Tom op die vorige toernooi in 2015 sy laaste toets gespeel het.

Die Rose was in November verlede jaar met 15-0 voor teen Nieu-Seeland, maar het uiteindelik – nadat ’n drie op omstrede wyse nie toegeken is nie – met 15-16 vasgeval – die enigste toets tussen die lande sedert Eddie Jones as Engeland se afrigter oorgeneem het.

“Hulle het net aangehou terugveg. Jy leer gou dat jy geen foute kan maak nie en ons het dit weer die naweek gesien.

“Die Iere het ’n paar keer gefouteer en het dikwels onder die pale gaan staan.

Vir my is die All Blacks die gevaarlikste span in die wêreld. Hulle is ook fisiek en ek dink hulle word soms onderskat in dié afdeling.
Ben Youngs

“Dit gaan daaroor dat jy eenvoudig nooit kan afskakel nie. “Vir my is die All Blacks die gevaarlikste span in die wêreld.

“Hulle is ook fisiek en ek dink hulle word soms onderskat in dié afdeling.”

Een van die redes waarom die Kiwi’s verlede jaar die knoop kon deurhak op Twickenham, was die vyf ingooie van Engeland wat hulle in die tweede helfte in die lynstane gebuit het.

Dit het die tuisspan kwaai ontwrig en Steve Borthwick, Engeland se voorspeler-afrigter, het benadruk dat hulle nie ’n herhaling hiervan kan bekostig nie.

Hy het veral die slot Brodie Retallick uitgesonder as ’n spesiale speler en ’n troefkaart vir die wêreldkampioen. – Reuters

 Hoogtepunte van 2012-toets: 

1983-wedstryd: