Die All Blacks het nóg ’n rat op die aanval gevind met Beauden Barrett, Sevu Reece en George Bridge wat in gister se kwarteind-stryd teen Ierland die giftigste vertoning nóg deur ’n agterste driehoek in vanjaar se Wêreldbekertoernooi gelewer het.

Die Kiwi’s se puik aanvallende spel in die Tokio-stadion maak hulle ná hul oorwinning van 46-14 oor ’n flou Ierland sonder twyfel die span om in vanjaar se Wêreldbeker te klop.

Die temperatuur het dalk ná die tifoon Hagibis baie gedaal, maar Reece-hulle het die stadion vuurwarm gespeel.

Die All Black Aaron Smith juig oor sy eerste drie, waarvan Peter O’Mahony van Ierland hom nie kon beroof nie.Foto: getty images

Noudat die humiditeit nie meer so ’n groot rol speel soos in die groepfase nie, het die All Black-agterlyn met Aaron Smith as die dirigent van hul aanvalle, veral in die eerste helfte van die beste hantering en vaardighede in die toernooi gewys.

Almal weet hoe gevaarlik Barrett met sy teenaanvalle en aansluiting by sy agterlyn is, maar dit was weer Reece en Bridge wat, soos teen die Springbokke in Jokohama, met hul aanvallende vermoë uitgestaan het.

Smith se tweede drie het juis gevolg ná ’n uitstekende agterlynbeweging en hantering waarby Jack Goodhue, Reece en Bridge betrokke was.

Reece en Bridge beïndruk weekliks al hoe meer met hul voorgevoel, vaardighede en hardlooplyne.

Smith se blitsige diens en goeie besluitneming agter ’n agttal wat grootliks die oorhand gehad het, verdien vermelding.

Hy weet hoe om die tempo van die spel blitsvinnig te maak, iets waarvoor die Iere nie ’n antwoord gehad het nie.

grafiek
Net Kiwi;s stof Bokke uit.

Sy, Barrett en Richie Mo’unga se skopwerk was ook stukke beter as Johnny Sexton en Conor Murray s’n. Met sulke skopwerk soos die All Blacks s’n wen jy bekers.

Die Ierse skakelpaar het egter by tye onseker voorgekom en in die proses heelwat verkeerde besluite geneem wat hul span onder yslike druk geplaas het.

Veral Sexton sal die toets liewer wil vergeet.

Asof dit nie erg genoeg vir sy spanmaats was dat hy in die eerste helfte met Ierland op die aanval nie ’n strafdoel by die kantlyn uitgeskop het nie, het hy dit in die tweede helfte weer gedoen.

Wat eintlik ’n lynstaan vir die Iere in die All Blacks se kwartgebied moes wees, het uiteindelik weens sy fout tot Matt Todd se drie gelei.

Sexton is net daarna in die 63ste minuut vervang.

Die All Blacks sal die telling met ’n greintjie sout neem aangesien Ierland se selfvertroue duidelik ’n hengse knou in die groepfase met sy nederlaag teen Japan weg het.

Gister se uitslag gee dalk ook ’n tikkie perspektief oor Japan se oorwinning oor die Iere, wat ’n swak Wêreldbeker beleef het.

Afgesien van CJ Stander se spel, was daar werklik nie veel om oor opgewonde te raak vir die Iere nie. Dit was ook nie die afskeidsgeskenk wat hulle vir Rory Best wou gee nie.

Al het die All Blacks kleingeld van die Iere gemaak, sal hulle skrumwerk voor hul halfeindstryd teen Engeland ’n bron van kommer wees. Dié kragmeting het egter alle bestanddele om een van die hoogtepunte van die toernooi te wees.

  • Die Ierse afrigter, Joe Schmidt, was platgeslaan.

“Ons het vandeesweek baie beserings gehad en kon eers Donderdag ons span finaliseer.

“Ek het gevoel ons moes goed begin om ons selfvertroue ’n hupstoot te gee, wat ongelukkig nie die geval was nie. Daarna het ek geweet dinge sou altyd moeilik teen die All Blacks raak.”

Die Iere kon volgens Schmidt nie dinge bymekaarsit nie.

“Jy moet die All Blacks laat werk vir enigiets. In dié wedstryd was dit nie die geval nie. Die All Blacks was terselfdertyd uitstekend.

“Hulle het dit vir ons moeilik gemaak om asem te haal. Toe hulle ons wel suurstof gee, het ons dit dadelik teruggegee deur foute te begaan soos deur nie strafdoele uit te skop nie. Hulle plaas ongelooflik baie druk met of sonder die bal op teenstanders.”

Best het dit moeilik gevind om sy emosies te beskryf.

“Ek is omgekrap.

“Groot manne was ná die eindfluitjie stil en in trane in die kleedkamer. Ek het ongelooflike goeie jare saam met die span gehad, maar vanaand (gister) is die fokus op die negatiewe ná die nederlaag.”

  • Punte

NIEU-SEELAND: Drieë: Aaron Smith (2), Beauden Barrett, Codie Taylor, Matt Todd, George Bridge, Jordie Barrett. Doelskoppe: Richie Mo’unga (4). Strafdoel: Mo’unga.

IERLAND: Drieë: Robbie Henshaw. Strafdrie. Doelskop: Joey Carbery.