Die Bokke het Eddie Jones se Engeland Saterdag in Jokohama . . . wel, ge-Eddie Jones.

“Dit is ironies,” sê Swys de Bruin, ’n voormalige Leeus-afrigter en Springbok-hulpafrigter. “Verlede week het Eddie (Jones, Engeland se afrigter) gesê hulle het Nieu-Seeland in die halfeindstryd geklop deur die All Blacks se tyd en ruimte te beperk. Dit is presies wat die Bokke nou met Engeland gedoen het,” het De Bruin gesê nadat Suid-Afrika die Wêreldbeker-eindstryd gerieflik met 32-12 gewen het.

“Ons verdediging en ons skrum het vir ons hierdie wedstryd gewen. Ons het foute afgedwing met ons verdediging, sommige van die foute was hoërskoolfoute.”

Ons verdediging en ons skrum het vir ons hierdie wedstryd gewen.
Swys de Bruin

Dit was baie soortgelyk aan hoe die Bokke nog die hele WB-toernooi lank speel, maar daar was tog ’n paar subtiele veranderinge aan die wedstrydplan.

“Die Bokke het ’n bietjie vonkelwynrugby vir die eindstryd gelos. Hulle het kanse afgedwing, en dit toe benut ook. Die verdediging het foute afgedwing wat hulle uitgebuit het.

“Daar is nie veel afgewyk van die skop- en drukplan nie en Engeland kon nie momentum kry nie. Die Bokke het wel ’n paar dwarsskoppe geskop en alles was nie boksskoppe nie.

’n Verslae Eddie Jones, afrigter van Engeland, Saterdag in Jokohama, Japan. Foto: Getty Images

“Maar ek is so bly die Bokke het aanvallende rugby gekombineer met drukrugby. Ek dink dit is die antwoord vir die pad vorentoe.”

De Bruyn, wat tot die Rugbykampioenskap nog by die Bokke betrokke was, sê Rassie Erasmus, die afrigter, se plan was altyd dat hierdie sy laaste toets in beheer sou wees.

“Hy het gesê hy wil die strukture regkry en hom daarna toespits op sy rol as direkteur van rugby.

“Die ou wat nou gaan inkom, kan voortbou op strukture wat heeltemal in plek is. Ek is bitter bly vir almal wat betrokke is en ek is baie opgewonde hieroor.

“Dit is ook goed vir die land,” sê De Bruyn.