Takealot kan R3,8 miljoen verloor, maar terselfdertyd 346 Suid-Afrikaners baie gelukkig maak, sou die Springbokrugbyspan Saterdag die Wêreldbekereindstryd wen.

Die e-handelaar het tydens die toernooi ’n spesiale aanbod gehad waarvolgens kopers van sekere Samsung-televisiestelle die volle koopbedrag sal terugkry sou die Springbokke wen.

Die totale waarde van die televisies beloop R3,8 miljoen.

Die aanbod het aanvanklik vanaf 6 September tot 18 September gegeld. Dit is later weer ingestel toe die Springbokke vir Japan in die halfeindstryd geklop het.

“346 kopers gaan volledig vergoed word indien, en wanneer, die Bokke wen,” het Julie-Anne Walsh, hoofbemarkingsbestuurder by Takealot gesê.

Die aanbod het vir die volgende televisiestelle gegeld: Samsung UHD TV van 49 duim (verkoopprys: R7 499), Samsung UHD TV van 50 duim (verkoopprys: R8 199) en die Samsung QLED TV van 55 duim (verkoopprys: R14 999).

Tog staan Takealot bankvas agter die Springbokrugbyspan.

“Ons skree vir ons manne in Groen-en-goud. As ’n trots Suid-Afrikaanse onderneming is hierdie aanbod ons manier om die Bokke te ondersteun.”

Samsung het in Julie aangekondig hy is die Springbokrugbyspan se amptelike borg van elektroniese toerusting.

Die ooreenkoms geld die volgende twee jaar.

Afgesien van Takealot se aanbod bied Samsung ’n soortgelyke een.

Enigiemand wat tussen 27 Oktober en 10 November ’n nuwe Galaxy A10, A10s, A20, A30 of A30s aanskaf staan ook die kans om hul geld terug te kry.

In dié geval gaan dit egter nie afhang van of die Bokke wen nie. Samsung gaan net ’n paar gelukkige wenners kies. – Business Insider