Michael Cheika, die Wallabies se afrigter, sê daar is by hom geen twyfel nie dat sy tiener-buitesenter, Jordan Petaia, die mas sal opkom in Saterdag se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Engeland in Oita.

Petaia (19), wat sy toetsbuiging in die groepwedstryd teen Uruguay gemaak het, vervang vir James O’Connor as Samu Kerevi se sentermaat. Engeland se kaarte in die middelveld is ook geskommel, met Henry Slade wat vir Owen Farrell as Manu Tuilagi se sentermaat vervang. Farrell sluif losskakel toe in die plek van George Ford.

“Ons het hom nie spesifiek vir hierdie wedstryd as buitesenter geoormerk nie,” het Cheika Donderdag aan verslaggewers oor Petaia gesê.

“Ons het eenvoudig elke speler se vertonings in wedstryde in berekening gebring en daarvolgens gekies. Ons het gevoel hierdie wedstryd sal hom pas. Ek het volle vertroue in hom en dis waarom hy gekies is.”

OITA, JAPAN - OCTOBER 17:  Christian Lealiifano of
Christian Lealiifano. Foto: Getty Images

Reece Hodge, wat ’n skorsing van drie wedstryde uitgedien het ná sy gevaarlike duikslag teen Fidji, sal as regtervleuel opdraf. Sy vermoë om die bal ver te sool, kan ’n kritieke faktor wees in ’n wedstryd waar daar min is om tussen die spanne te kies.

Will Genia en Christian Lealiifano is die skakelpaar, wat beteken dat Cheika nou sy vyfde verskillende skakelpaar-kombinasie in vyf wedstryde gekies het.

“Ons is gelukkig met die goeie spelers wat ons in daardie posisies het. Daar’s min tussen hulle te kies en ek sou ongeag wie ek gekies het, niks prysgegee het nie,” sê Cheika.

Die losvoorspeler-kombinasie is onveranderd met twee baljagterflanke in Michael Hooper en David Pocock. Isi Naisarani is die agtsteman.

Dis ’n kombinasie wat dalk vir Australië ’n tekort aan lynstaanopsies kan gee, maar daar is twee slotte in Adam Coleman en Lukhan Salakaia-Loto onder die vyf voorspelers op die plaasvervangersbank.

“Ons is werklik in ons noppies met hoe al ons voorspelers vertoon het en daar was baie kontinuïteit in ons keuses van agttalle in die aanloop tot hierdie wedstryd,” sê Cheika.

Kurtley Beale is op heelagter gekies nadat hy sy harsingskuddingtoetse geslaag het. Hy het in die groepwedstryd teen Georgië ’n hou teen sy kop gekry.

“Kurtley bied vir ons baie onvoorspelbaarheid. Hy kan nie wag om te speel nie. Ek het baie geloof in hom,” sê Cheika.

Die Wallaby-breier maak ook op jeug op sy plaasvervangersbank staat, met die 23-jarige Taniela Tupou wat bo die deurwinterde Sekope Kepu as reserwe-vaskopstut gekies is.

O’Connor en Matt Toomua gee vir die Wallabies veelsydige agterspelers op die bank, terwyl Nic White die plaasvervanger-skrumskakel is.

Australië: Kurtley Beale, Reece Hodge, Jordan Petaia, Samu Kerevi, Marika Koroibete, Christian Lealiifano, Will Genia, Isi Naisarani, Michael Hooper (k), David Pocock, Rory Arnold, Izack Rodda, Allan Alaalatoa, Tolu Latu, Scott Sio. PLAASVERVANGERS: Jordan Uelese, James Slipper, Taniela Tupou, Adam Coleman, Lukhan Salakaia-Loto, Nic White, Matt Toomua, James O’Connor.