Konnichiwa.

Die tyd vlieg hier in Japan. Tussen ons hotel, die Springbokke s’n, stasies, oefeninge en nuuskonferensies is daar min tyd om toeris te wees.

Die Bokke ry byvoorbeeld, afhangende van die verkeer, sowat 45 minute per bus vanaf hulle spanhotel in Toyota tot by hul oefenveld elders in die stad. Vanaf my hotel neem dit ’n mens ’n verdere tien minute.

Ná sowat twee weke hier het ek darem nou ’n beter idee van hoe hulle treinstelsel werk.

’n Hoogtepunt sover wat die treine betref, was Sondag toe drie van ons Suid-Afrikaanse rugbyskrywers van Jokohama met Japan se sneltrein, die Sjinkansen, na Toyota vir Saterdag se toets teen Namibië gereis het.

Dié sneltrein, ook bekend as die “bullet train”, is een van Japan se trotse simbole. Dít was ’n ervaring wat ek nie maklik sal vergeet nie.

Binne die trein is dit luuks. ’n Mens reis in gerief en styl. Jy kan jou sitplek effens agteroor slaan. Hulle verkoop eetgoed en koeldrank aan boord én daar is gratis WiFi beskikbaar.

’n Straattoneel in Toyota, een van die gasheerstede tydens vanjaar se Wêreldbeker-toernooi. Foto: Hendrik Cronjé

Hulle beweer die sneltrein behaal ’n topsnelheid van tot 320 km/h.

Ons gaan in Toyota al in ons derde hotel tydens die Wêreldbeker-toernooi tuis. Ons portaal is op die 18de vloer. Ons hotel is bo-op ’n kantoorblok naby die stasie en is sentraal geleë.

My kamer is op die 19de vloer. ’n Mens probeer nie dink wat kan gebeur as daar op enige stadium ’n aardbewing is nie, wat nie onmoontlik is nie.

Die uitsig wat ’n mens van jou ontbyttafel oor die stad het, is prentjiemooi. Toe ek egter my eerste ontbytkaartjie hier in ons hotel in Toyota gebruik het, was ek net met die roereier, lemoensap, Coco Pops en spek vertroud. Die res van die kos was vir my werklik Grieks, of dan Japannees.

Dis ook nie jou spek wat jy in Suid-Afrika kry nie. Die hotel se spek is so dik soos die snye kaas wat ek laatmiddag vir myself en my kinders by die huis sny.

Op soek na ’n bietjie kaas om bo-op my konfyt te strooi, maak ek toe die eerste oggend die fout om Japanse noedels, wat soos gerasperde kaas in Suid-Afrika lyk, daarmee te verwar. Dit het nie sleg gesmaak nie, maar ek het nie van die idee gehou nie.

Met ons aankoms hier het ek vinnig besef Toyota is oor die algemeen goedkoper as Tokio en Jokohama, wat hul taxi’s, bier en kos betref.

Een van die kanale wat deur Toyota se middestad vloei. Foto: Hendrik Cronjé

Toyota is maar meerendeels ’n nywerheidstad, wat hier en daar sy eie juweeltjies het.

Terug by rugby. Die gees in die Bok-kamp is nog werklik positief. Uiteraard is hulle teleurgesteld oor die uitslag in Jokohama teen die All Blacks.

Ná die toets in Jokohama het die uwe vinnig na die Bokke se nuuskonferensie met Rassie Erasmus gepraat. Tensy my ore my in die steek gelaat het, het ek met Steve Hansen se verbystap gehoor hoe die All Black-afrigter in my teenwoordigheid aan Rassie sê “sien julle in die eindstryd”.

Dít daar gelaat. Dit was ieder geval nie vir my ore bedoel nie.

Die atmosfeer voor die toets teen die All Blacks in Jokohama was terloops buite en binne die International-stadion wonderlik. Jokohama het ’n heerlike toetsatmosfeer gehad, selfs in die restaurante.

Ek het verskeie bekendes soos Fourie du Preez en sy seun, die oud-Vrystaatse slot Dennis van Zyl en andere daar raakgeloop.

Met sy ongeveer 72 000 sitplekke is die International-stadion indrukwekkend. As ’n mens ’n tikkie kritiek kan lewer oor die stadion, wat ’n halfeindstryd en die eindstryd huisves, is dit dat jy ver van die speelveld sit.

Veral op die boonste vlak benodig jy letterlik ’n verkyker as jy die spel in detail wil volg. Dié stadion herinner my baie aan die Moses Mabhida-stadion, waar jy ook ver sit.

Sover beweeg die Bokke onder die radar in die aanloop tot Saterdag se Namibiese toets.

Erasmus kondig sy span Woensdag aan en gaan grootskaalse veranderinge maak omdat hy aan sekere van sy spelers ’n ruskans wil gee.

Die Bokke sal nou vorentoe op hulle spel in daardie laaste 40 minute teen die All Blacks moet voortbou as hulle tot in die uitkloprondes wil vorder en hulself enigsins as ’n ernstige aanspraakmaker op die Wêreldbeker wil beskou.

Die uwe het wel nog baie hoop vir die Bokke.

Kanpai.

* Hendrik Cronjé doen vanuit Japan vir Netwerk24 verslag oor die Wêreldbeker-toernooi.