Konnitsji wa.

Die humiditeit het dalk ’n negatiewe invloed op die gehalte van rugby in die groepfase van die Wêreldbeker (WB)-rugbytoernooi, maar dis net die resep wat ’n paar van ons oorgewig-rugbyskrywers benodig om van ons vetrolletjies te laat wegsmelt.

Uit al die stede waar ons al tydens die Wêreldbeker in Japan besoek afgelê het, is Sjizoeoka die plek waar die humiditeit die hoogste is.

’n Mens stap baie in Japan. Maandag moes ons bykans ’n halfuur lank van die Bokke se spanhotel na hul oefenveld stap. Moet ook nie Sjizoeoka se omgewing rondom die Bokke se hotel met die Vrystaatse vlaktes verwar nie. Dis op, dis af. Dis vrek warm en bedompig.

Die handjievol Suid-Afrikaanse rugbyskrywers en fotograwe in Sjizoeoka, het op pad na die oefening lekker gesweet en eerstehands ervaar hoe erg die humiditeit en hitte is – en ons speel nie eens vir 80 minute nie.

Die humiditeit, hitte en baie stappery bring mee dat joernaliste meestal met natgeswete hemde by Springbok-oefeninge en -nuuskonferensies aankom. Foto: Hendrik Cronjé

Die meeste van die skrywers het met rugsakke gestap. Toe ons by die oefenveld aankom, was ons hemp en voorkop natgesweet. Die pad na die oefenveld vleg darem met tye so tussendeur die pragtige gholfbaan waar die Bokke se hotel geleë is.

Een van die skrywers beweer dat hy sedert die begin van die toernooi op pad oefenveld toe al 3 kg afgeskud het. Soveel soos Duane Vermeulen vroeër tydens ’n enkele oefening verloor het.

Gemeet aan die verstellings wat ek aan my belt moes maak, het die humiditeit en baie stappery selfs die uwe beetgekry.

Kyk, ons rugbyskrywers probeer doelbewus die Japannese kultuur, kossoorte en bier geniet. Ons het tot voor ons aankoms in Sjizoeoka enige kos en bier vermy wat ons in Suid-Afrika kan kry.

Twee van ons kon egter nie Maandagaand langer uithou nie. Ons het so 45 minute van ons hotel na ’n McDonalds in Omaezaki gestap om ons honger met bekende kos te stil. Ek hoor verskeie van die Bok-voorspelers hang self daar uit.

Omaezaki is aangrensend tot Sjizoeoka.

Die meeste wat sedert Sondag met ons aankoms hier gebeur het, was die verkeersligte wat van kleur verander het. As Rassie Erasmus ooit ’n week wou gehad het waar sy spelers net op rugby moet fokus, is dit hier in Sjizoeoka.

’n Mens sien hier en daar ’n paar supermarkte en klomp motorhandelaars. Veral Toyota-handelaars, want hoe anders dan in Japan? Hier is selfs ’n klein casino. Maar ons skrywers het byvoorbeeld met groot moeite ’n klein restaurant in die omgewing opgespoor wat terloops die lekkerste kos nog sover op toer voorberei het.

As jy by dié restaurant kom eet, moet jy jou skoene uittrek en op die grond sit. Foto: Hendrik Cronjé

Met die instap is ons dadelik voorgekeer en gevra om ons skoene uit te trek. Dis ook nou nie jou gewone tafel en stoele waarby ons tuis aansit nie. Jy sit basies op die vloer en druk jou bene in die ruimte onder die tafels deur.

Ek het kerriehoender bestel en maar in die omgewing van 800 jen (sowat R140) daarvoor betaal. Dis heelwat goedkoper as in stede soos Tokio, Jokohama en Toyota.

Selfs die bier is hier so 200 jen (amper R30) per glas goedkoper as in die ander stede.

Ons kon egter ná drie dae hier steeds nie ’n kuierplek, of soos die Engelsman sal sê ’n pub, opspoor nie.

Ons geniet dit werklik baie hier, maar ’n week sal lank genoeg wees. Veral vanweë my badkamer se ruimte, wat kleiner as die binneruim van my voertuig is – en ek oordryf nie.

Die kamers van ons hotel is ook duidelik vir Japannese ontwerp. Ek kan byvoorbeeld nie normaal in my badkamer instap nie. Ek moet eers buk dat ek nie my kop stamp nie. Dit herinner my baie aan ’n vliegtuig se badkamer.

Die slegte nuus met dié spyskaart vir drankies in Sjizoeoka is dat dit moeilik is om die bier te vind. Die goeie is dat wanneer jy wel een bestel, dit baie goedkoper as in die res van Japan is. Foto: Hendrik Cronjé

My kamer is ook ’n kwart van die grootte van my eerste hotel daar in Tokiobaai.

Die WB-toernooi is nietemin sover ’n onbeskryflike ervaring.

Die Japannese is wonderlike en behulpsame mense. Alles werk en is betyds en dis boonop ’n skoon land. Jy sien nêrens ’n papier rondlê nie.

Vrydag is die grote teen Italië.

Die belangrikste toets sover van Rassie Erasmus se termyn as Bok-afrigter.

Selfs al speel die humiditeit, wat julle terug in Suid-Afrika nie op televisie kan sien en eerstehands ervaar nie, ’n reuse-rol in die groepfase, behoort die Bokke te sterk vir Italië te wees.

Tot volgende week, uit ’n land waar jy jou beursie met vrymoedigheid op jou ontbyttafel kan los terwyl jy opskep. Kanpai.