Konnichiwa.

In my vyf weke hier het die Japannese my die ware betekenis van die woord respek geleer.

Voor die toernooi het ’n mens gedink jy weet iets van dié kragtige woord.

In Japan het ek vinnig agtergekom daar is ’n wesenlike verskil tussen bloot goeie maniere en respek.

Met my vyftigtal in sig, het ’n mens gehoop jy sou al lankal daardie onderskeid onder die knie hê.

Helaas nie.

Dit verstom my nog daagliks hier hoe respekvol die Japannese is.

Of dit nou in treine, by stasies, in ’n taxi, busse, restaurante, by die ontbyttafel, in die voorportaal van jou hotel of in die strate is – hulle is ongelooflik respekvol.

Selfs die Bokke het dit die afgelope tyd al verskeie kere in nuuskonferensies vermeld.

Die Japannese is nie net respekvol teenoor ander mense nie, maar ook teenoor hulself. Kom ek probeer verduidelik.

Dit wemel van toeriste in Hiroesjima, wat dit soos ’n Europese stad laat voel. Foto: Hendrik Cronjé

Dalk moet ek ’n voorbeeld gebruik wat die afrigter Franco Smith een keer aan die spelers van die Cheetahs genoem het.

Hy het gesê dit gaan nie vir hom oor wat mense voor ander doen nie. Dit gaan eerder vir hom of jy ’n papiertjie wat op die grond lê sal optel as jy verby dit stap en niemand na jou kyk nie.

Nou wel die Japannese is vir my daardie soort mense, dié wat daardie papiertjie sal optel.

Respek is iets wat jy verdien, nie net kry nie. Japan het myne verdien.

Nog ’n hoogtepunt sover vir my tydens die Wêreldbeker-toernooi, was ’n besoek aan Hiroesjima.

Dié stad het wêreldwyd bekend geword nadat kolonel Paul Tibbets en sy bemanning op 6 Augustus 1945 met die Amerikaanse B-29-bomwerper genaamd die Enola Gay met die atoombom “Little Boy” aan boord opgestyg het om Hiroesjima onherroeplik te verander.

Die plofkrag van die atoombom word gelykgestel aan 12 000 tot 15 000 ton plofstof.

Toe die bom ontplof het, het dit ’n vuurbal gevorm waarvan die hitte tot 4 000 °C gestyg het.

’n Spesiale gedenksentrum in Hiroesjima vir die duisende slagoffers van die atoombom. Foto: Hendrik Cronjé

Hiroesjima, met talle geboue wat uit hout en papier gemaak is, is feitlik van die aardbol geveeg.

Die stad is intussen herbou en behoort selfs in die geval van ’n aardbewing staande te bly. Deesdae wemel dit van toeriste hier.

Dis skoon en pragtig, soos die res van Japan.

Sy vervoerstelsel is vyfster. Met tye tydens my besoek aan Hiroesjima het dit kompleet gevoel of ek iewers in Europa rondstap.

Japan se pragtige natuur herinner ’n mens ook dikwels aan George en die kusdorpies in sy omgewing.

Al het Japan stil-stil in ’n mens se hart gekruip, hoop ek steeds die Bokke speel Sondag in hul kwarteindstryd teen Japan die rol van pretbederwer vir die gasheerland se Wêreldbeker-partytjie.

Japan se oorwinning oor Skotland was waarskynlik net soveel werd vir Japanse rugby as daardie roemryke sege oor die Bokke in Brighton.

Japan se rugbyspan het reeds sy kant gebring om van die toernooi ’n onvergeetlike skouspel te maak.

Suid-Afrika, as ’n land, benodig nou dringend ’n samebindende faktor.

Die Bokke kan dít met hul spel in die Wêreldbeker-uitspeelwedstryde vir alle Suid-Afrikaners oor verskillende kleurgrense heen wees.

Kanpai.