Konnichiwa.

In week vier in Japan het die verlange na ’n Suid-Afrikaanse braai nou ernstig ingeskop.

Dis nie meer ’n vreemde ding om seekat in ’n restaurant te bestel of van hul ander eksotiese geregte te eet nie.

Die naaste wat die uwe sover hier aan ’n Suid-Afrikaanse braaivleis gekom het, is deur die bekende Kobe-beesvleis hier in die stad met dieselfde naam te eet.

Vyf van ons rugbyskrywers op toer het ons s’n by die pragtige Arima Hot Spring geëet.

Die vleis van die Wagyu-beeste is heerlik en wêreldbekend. Dis ryk en vrek duur, maar als die moeite werd.

’n Mens sal egter wat wil gee vir die geselligheid om te braai saam met jou gesin en vriende, tesame met die heerlike geur van braaivleis.

Kobe-bief is wêreldbekend en beslis die geld werd. Foto: Hendrik Cronjé

Japan is nietemin ’n wonderlike land en ’n nog beter gasheer vir die Wêreldbeker-toernooi.

Dis ’n belewenis om die atmosfeer in stadions te ervaar. Die Japannese omhels rugby se skouspel.

Die aanbied van die toernooi en die bemarking daarvan oral teen die lamppale in die vernaamste strate van stede, rondom stadions en veral in stasies, sal die belangstelling van rugby in Japan beslis aanwakker.

Dis veral opmerklik hoeveel jong seuns van die Bokke se toetse bywoon en met hul Japanse of Bok-trui daar opdaag.

Iets wat nog nie baie vermeld is nie, is die gehalte van die velde waarop die toetse plaasvind.

Ons kry met die Bokke se kapteinsoefening die kans om letterlik ’n meter of twee langs die velde te staan.

Dis die beste wat ek al wêreldwyd gesien het.

Die velde herinner ’n mens aan Sun City se skoonvelde tydens die Nedbank-uitdaagtoernooi. Die gras is wel so rapsie langer vir rugby.

Die toeganklikheid tot die stadions vir die algemene ondersteuner was nog oral in Jokohama, Toyota, Sjizoeoka en Kobe ’n eersteklas-ervaring.

Die stasies is almal binne loopafstand van die stadions. Verkies jy om nie trein te ry nie, is daar oral busse en taxi’s.

Die Wêreldbeker-toernooi word uitstekend bemark in Japan. Hier pryk Bismarck du Plessis, in aksie in die 2015-toernooi, lewensgroot by ’n stasie in Kobe. Foto: Hendrik Cronjé

Op die dag van die toetse wemel dit van beamptes in hul kenmerkende Wêreldbeker-kleredrag, wat oral buite die stadion staan om die ervaring vir besoekers te verbeter.

As jy nie weet waarheen nie, stuur hulle jou vinnig in die regte rigting.

Selfs op elke stasie, of die groter stasies, is daar sewe dae ’n week sulke beamptes. As jy nie seker is oor watter trein jy moet neem of op watter stasies jy moet afklim nie, gaan vra jy hulle.

Iets wat veral die afgelope twee weke uitstaan, is Rassie Erasmus, Springbok-afrigter, se keuse van hotelle in Japan.

Die Hamaoka Hotel in Sjizoeoka en Kobe se Sheraton in Rokkobaai is nie naby die sosiale aksie nie.

In Sjizoeoka was daar maar eintlik net ’n gholfbaan vir die spelers, met geen groot winkelsentrums, restaurante, koffiewinkels of enige kuierplekke nie.

Rokkobaai bied genoeg vir die spelers om hulself mee besig te hou, maar verg moeite vir hulle om met ’n taxi, bus of trein tot by Kobe se middestad te kom waar al die liggies is.

Die punt wat ek probeer maak, is dat die Bokke se fokus vanweë die keuse van die hotelle noodgedwonge op rugby is. Op niks anders nie.

Die indruk wat ’n mens ook in gesprekke met bestuurslede van die Bokke kry, is dat hulle in hul plan glo en daar geen twyfel daaroor bestaan nie.

Hopelik voorspel dit iets goed vir die uitkloprondes van die Wêreldbeker. Gespe julle sitplekgordels intussen vas, want die belangrikste deel van die Wêreldbeker begin volgende week.

Kanpai.