Tonga se Telusa Veainu lek behoorlik sy lippe af om die eerste keer op toetsvlak met die Engelse “laspos” Manu Tuilagi by die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan kragte te meet.

Die 28-jarige Veainu, ’n veelsydige agterspeler, is ’n boorling van Nieu-Seeland, wat sy klubrugby in Engeland vir die Leicester Tigers speel. En Tuilagi (28), wat in Samoa gebore is en Engeland in Japan gaan verteenwoordig, is nie net een van sy spanmaats by die Tigers nie, maar ook so te sê sy buurman.

Toe Veainu hom in 2015 by die Tigers aangesluit het, het Tuilagi hom soos ’n ouer broer oor die Tongaan ontferm en hom gehelp om die aanpassing in die nuwe land effens makliker te maak.

Dit was ook Tuilagi wat hom spreekwoordelik gehelp het om die trane af te vee toe hy in 2018 vir agt maande langs die kantlyn was met ’n besering. Tuilagi is natuurlik ook die afgelope paar jaar behoorlik deur dyspierbeserings en knieprobleme geteister.

Maar op 22 September sal daar geen Suidsee-broederskap wees wanneer Engeland en Tonga mekaar in ’n kragmeting in Groep C by die WB-toernooi in Japan pak nie.

“Hy (Tuilagi) woon minder as 100 m van my af (in Leicester) en kan partykeer ’n regte laspos wees. Maar hy het my gehelp om aan te pas (by die Tigers) en ek is ook deur donker tye met beserings,” het Veainu Woensdag op ’n nuuskonferensie gesê.

Manu Tuilagi is van Samoaanse afkoms, maar verteenwoordig Engeland by vanjaar se Wêreldbeker-toernooi. Foto: Getty Images

“Hy het my vertel alles gebeur vir ’n rede. As dit nie vir my besering was nie, sou ek my dogter se geboorte in November misgeloop het, omdat ek saam met Tonga in Wallis sou gewees het.”

Maar behalwe vir die kans om teen sy buurman te speel, sien Veainu daarna uit om van sy ander Tiger-spanmaats die stryd aan te sê.

“Ek sal probeer om so vuil as moontlik te speel,” het hy tong in die kies opgemerk.

Engeland het intussen goeie nuus ontvang aan die beseringsfront, met Joe Cokanasiga en Mark Wilson wat weer voluit oefen nadat hulle las van kniebeserings gehad het. Ook Mako Vunipola (dyspier) en Jack Nowell (enkel) maak goeie vordering.

“Ons het regtig ’n goeie dag gehad. Mark Wilson en Joe Cokanasiga het geoefen, terwyl Mako Vunipola aan die skrumsessies deelgeneem het. Jack Nowell het langs die veld gehardloop,” het Neal Hatley, die Engelse se skrumafrigter gesê. – Reuters