Die spook van Japan het weer toegeslaan en het selfs nou die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, op hol. Soos in die klassieke fliek Tora! Tora! Tora! het Japan sy aanvalskode van Tier! Tier! Tier! gestand gedoen en Ierland gister aan flarde gespeel.

Erasmus bestempel die moontlikheid dat Japan die Bokke se teenstander in die kwarteindstryd van die Wêreldbeker-toernooi kan wees, as “ ’n skrikwekkende moontlikheid” nadat Japan Ierland in Wêreldbeker-verleentheid gedompel het deur die Iere met 19-12 in ’n skok-uitslag te verslaan.

Erasmus het ná die Springbokke se wegholsege van 57-3 gister oor Namibië in ’n groepwedstryd in Toyota gesê dit sal ’n “skrikwekkende opsie” wees om teen Japan in ’n moontlike kwarteindstryd te speel.

“Julle kan regtig trots wees op jul span,” het Erasmus aan Japanse joernaliste gesê ná Lappies Labuschagné-hulle se oorwinning oor die Iere.

“Nadat ons Japan op 6 September met 41-7 in ’n Wêreldbeker-losmaker geklop het, het ek gesê die telling is nie ’n ware weergawe van die wedstryd nie.

“Ek het gesê as ons daarin slaag om tot die kwarteindronde deur te dring, kan ons teen Japan speel.

“ ’n Week gelede het ek gesê as ons daarin slaag om Italië te klop, en Ierland daarin slaag om Japan te klop, sal ons Ierland dalk ontmoet, maar ons moet albei eers oor dié hekkies kom.

“Nou het Ierland dit nie gedoen nie en ons moet nog teen Italië speel. Ek het altyd geweet dat Japan ’n realistiese aanspraakmaker op ’n plek in die kwarteindronde is.

“As hulle daarin slaag om Skotland te klop, kan hulle bo-aan hul groep eindig. As ons daarin slaag om Italië te klop, is daar ’n realistiese kans dat ons teen Japan in die kwarteindstryd speel.”

Erasmus het gesê hy het ’n groot deel van sy span se opwarming vir die toets teen Namibië misgeloop, omdat hy eers na die volle wedstryd tussen Japan en Ierland wou kyk.

Japan het volgens Erasmus hul sege onder meer te danke aan hul kennis van die plaaslike speeltoestande.

Hy het ná die Bok-sege oor Namibië met hoë lof van Japan as die gasheer van die toernooi gepraat.

“Japan kan trots wees op hoe julle die Wêreldbeker aanbied. Onder meer hoe jul stadions en oefengeriewe lyk. En hoe julle die spanne by oefeninge ondersteun. Ons geniet dit baie, dis ’n wonderlike ervaring.”

Oor die Bokke se vertoning teen Namibië was Erasmus baie realisties.

Die oorwinning en vyf punte is vir hom belangriker as die wyse waarop sy sogenaamde B-span dit oor Namibië vermag het.

“Dit was allermins ’n volmaakte vertoning. Harde werk wag op ons.

“Dit is moeilik om in die speeltoestande (humiditeit) die bal te hanteer. Ons het geweet die hantering sal ná 20 of 25 minute al hoe moeiliker word. Vra die spelers, ons het vooraf daaroor gepraat.

“Ons het verlede week die moeilikste eerste groepwedstryd van enige span gehad.

“Ons het nou die wen en vyf punte gekry nadat dit die week sleg was om te sien dat ons nul punte het.”

Hy is tevrede met sy span se nege drieë, veral omdat dit byna onmoontlik is om aan mense in Suid-Afrika te verduidelik hoe moeilik dit is om die bal te hanteer.

“Dit was nie ’n wonderlike vertoning nie, maar ook nie te versmaai om die eerste vyftigtal van die toernooi te behaal nie.”

Volgens Erasmus was dit vooraf duidelik dat Namibië eerder die toets later teen Kanada teiken as die een wat hulle kan wen.

Namibië het daarom verskeie van hul topspelers teen die Bokke gerus met die oog op volgende week se toets teen die All Blacks en ’n week later s’n teen Kanada.

“Ons is daarom realisties oor waar ons onsself tans bevind en wat ons wil bereik.

“Namibië het ons dalk nie takties uitgedaag nie, maar hulle was beslis fisiek. Daar is ’n paar seer lywe in die kleedkamer.”

Een van die belangrikste doelwitte wat volgens die Bok-afrigter in die toets bereik is, was dat verskeie sogenaamde tweedekeuse-spelers genoeg speelkans gekry het.

Erasmus behoort volgende week grootskaalse veranderinge aan die Bokke se beginspan vir Vrydag se toets teen Italië te maak.

Punte:

Suid-Afrika: Drieë: Lwazi Mvovo (3), Ruan Botha, Sbu Nkosi (2). Doelskoppe: Garth April (3), Benhard Janse van Rensburg.

Namibië: Strafdoel: Cliven Loubser.