Trevor Nyakane se Wêreldbekertoernooi is verby.

Hy het die Springbok-kamp weens 'n kuitspierbesering verlaat en sal voor Saterdag se Groep B-wedstryd teen Namibië in Toyota deur Thomas du Toit vervang word.

"Ons is baie hartseer vir Trevor se onthalwe," het Matt Proudfoot, voorspelerafrigter van die Bokke, gesê.

"Hy het 'n baie goeie seisoen gehad en hard gewerk.

"Hy het die afgelope tyd naatloos in 'n internasionale vaskopstut ontwikkel. Hy is werklik 'n goeie spanman. Ons gaan hom baie mis. Hy het opdrag gekry om aan sy besering te gaan werk, 'n mens weet nooit wat die toernooi inhou nie."

Nyakane het sy kuitspierbesering in die Wêreldbeker-kragmeting met die All Blacks in Jokohama opgedoen. Hy het sy linkerknie ook vroeër in die toets teen Japan seergemaak, maar betyds herstel om Nieu-Seeland te pak.

Proudfoot het nietemin groot vertroue in Du Toit.

"Hy is 'n sterk baldraer en bring sy kant op die verdediging. Hy is 'n goeie plaasvervanger vir Trevor en ook iemand wat aan albei kante kan skrum."

Thomas du Toit sal Nyakane in die Bokke se Wêreldbeker-groep vervang. Foto: Gallo Images

Die 24-jarige Du Toit is tans in Frankryk waar hy vir die Franse klubspan Toulouse speel. Hy het aanvanklik 'n korttermynkontrak met hulle vir die duur van die Wêreldbeker gesluit voordat hy deur die Bokke opgeroep is. Hy is steeds in volgende jaar se Superreeks vir die Haaie beskikbaar. Daar sal hy grootliks as 'n vaskop oorweeg word nadat die Durbaniete 'n kontrak met die Vrystaatse loskopstut Ox Nche gesluit het.

Du Toit sal hom Dinsdag by die ander vaskoppe in die Bok-groep, Vincent Koch en Frans Malherbe, in Toyota aansluit. Hy was vroeër vanjaar deel van die Bokke se planne en het volgende in die tou gestaan. Sy keuse maak daarom sin. Coenie Oosthuizen en Wilco Louw is wel ook oorweeg aangesien Du Toit nie 'n spesialis-vaskopstut is nie. 

Proudfoot het gesê hy is tevrede met hoe die Bokke die naweek teen die All Blacks geskrum het.

"Die All Blacks is 'n slim span. Hulle het op ons ingooie in die skrums met iets nuuts vorendag gekom," het Proudfoot gesê. "Ek is baie trots op hoe ons agttal op hul ingooie geskrum het - veral ons hakers, Malcolm Marx en Bongi Mbonambi, het goed gedoen. Ons kon hulle sodoende onder druk plaas."

Proudfoot was soos gebruiklik diplomaties toe hy gevra is of die Bokke sekere beslissing van die Fransman Jérôme Garcès met Wêreldrugby sal bespreek. Daar word sedert die toets verskeie foto's en video's op sosiale media versprei waar albei die stutte van die All Blacks, Nepu Laulala en Joe Moody, se elmboë teen die gras druk, maar hulle nie daarvoor gestraf word nie. Terwyl verskeie van die All Blacks se foute ongestraf gebly het, het Garcès die Suid-Afrikaanse skrum - wat grootliks oorheersend was - twee keer gelooi. 

"Ek is seker ons direkteur van rugby (Rassie Erasmus) sal dit (van die beslissings) aanspreek, soos spanne maar ná toetse doen," het Proudfoot gesê. "Ek het gedink Frans Malherbe was baie goed. Hy het sy teenstander onder druk geplaas. Dit gebeur soms dat een stut die ander een in toetse karnuffel. Ek dink Frans het goed gedoen."

YOKOHAMA, JAPAN - SEPTEMBER 21: Siya Kolisi (capta
Die Bok-kaptein Siya Kolisi sal volgens die hulpafrigter Matt Proudfoot binnekort 'n volle 80 minute kan speel. Foto: Gallo Images

Nog 'n video wat op sosiale media 'n warm besprekingspunt afgee, is een waar die All Black-kaptein Kieran Read vir Pieter-Steph du Toit ná 'n lynstaan doelbewus om die nek gryp om te verhinder dat die Bok-flank Aaron Smith in besit betrap. Dit sal interessant wees om te sien of enige optrede deur Wêreldrugby teen Read gaan volg.

Proudfoot het dit in die nuuskonferensie duidelik gemaak dat die Bokke se fokus nou na Saterdag se toets teen Namibië verskuif. Hy het aangedui dat die Bokke se dryfmaalbewegings, een van hul tradisionele sterkpunte, die week aandag sal kry nadat die All Blacks dit - wettig of onwettig - kon stuit.  

"Die All Blacks was slim. Ons het gedink hulle sal ons in die lug vasvat met ons dryfmaalbewegings, toe vat hulle ons op die grond vas. 

"Ek het werklik gedink dit was twee goeie agttalle wat mekaar in Jokohama gepak het. Ons sal leer uit daardie toets."

Proudfoot moes ook verduidelik waarom die Bok-kaptein Siya Kolisi in ongeveer die 50ste minuut teen die All Blacks deur Francois Louw vervang is. 

"Ek dink Siya se kans om ná sy besering binnekort weer vir 80 minute te speel is goed. Ons het altyd geweet hy sal nie vir 'n volle 80 minute kan speel met die intensiteit teen die All Blacks so hoog nie."

Die Bokke kondig hul span vir die Namibiese toets Woensdag aan.