Die omstrede Ierse rugbykommentator Neil Francis stel voor dat daar ’n asterisk agter die Springbokke se Wêreldbeker-sege in die annale aangebring word, glo weens Suid-Afrikaanse rugby se geskiedenis van verbode middels.

Dié voormalige Ierse slot sê daar is al vir baie jare vrae oor die gebruik van steroïede in Suid-Afrikaanse rugby.

Francis het verwys na die konkoksie van verbode middels wat vroeër die seisoen tot die Bok-vleuel Aphiwe Dyantyi se tydelike skorsing gelei het.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het in Augustus bevestig dat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) die anaboliese steroïede matandiënoon, metieltestosteroon en LGD-4033 in Dyantyi se bloed gevind het.

Die Saids het die opkikkertoets op Dyantyi op 2 Julie gedoen en sy B-monster het sedertdien ook positief getoets.

“Ondanks Siya Kolisi se merkwaardige nederigheid en Rassie Erasmus se verstommende ommekeer van ’n span wat agteruit geboer het, is daar steeds onbeantwoorde vrae,” skryf Francis.

“Kom ons kyk na die kern van die probleem. Dyantyi is ’n superster en as hy in Europa gespeel het, was ’n skorsing van vier jaar sonder twyfel sy voorland.

“Hy speel egter sy rugby in Suid-Afrika, waar Chiliboy Ralepele toegelaat is om aan te hou speel en sy loopbaan by die Haaie af te sluit, ondanks die feit dat hy twee keer vantevore geskors is weens verbode middels.

Die speler sal na my mening daarvoor boet, maar die stelsel bly in plek. Die opkikker-kultuur is steeds daar.
Neil Francis


“Dyantyi mag dalk kry wat hom toekom, maar die probleem is dat die fokus op die individu is, terwyl dit net die oortjies van die seekoei is.”

Francis verwys in sy rubriek na ’n studie wat glo onder 12 000 skoolseuns in KwaZulu-Natal gedoen is en waarin bevind is dat sowat 10% van dié leerlinge steroïede gebruik.

“Hoekom sal skoolseuns toegee dat hulle steroïede gebruik as dit nie die geval is nie?

“Dit was net ’n beperkte steekproef, maar sowat 1 200 seuns, waarvan sommige so jonk as 13 is, erken hulle gebruik dit.

“Waar kry die kinders dit en hoe weet hul ouers en die skole nie daarvan nie?”

Francis, wat daarvoor bekend is dat hy sy lesers dikwels omkrap, vra hoeveel Dyantyi’s daar in Suid-Afrika rondloop.

Die dwelmkultuur in Suid-Afrikaanse rugby is walglik. Dit is absoluut oral. Daar is 16-, 17-, en 18-jariges wat opkikkers gebruik.
Neil Francis


“Of is hy die enigste een? Die speler sal na my mening daarvoor boet, maar die stelsel bly in plek. Die opkikker-kultuur is steeds daar.

“Die gróót vraag is: Moet ons ’n asterisk agter die naam van 2019 se Wêreldbeker-kampioen plaas?”

Francis se kritiek kom kort nadat ’n Ierse joernalis Ger Gilroy op ’n plaaslike sportprogram aangevoer het die Springbokke verdien nie die beker nie, omdat daar ’n “dwelmkultuur” in Suid-Afrikaanse rugby heers.

“Die dwelmkultuur in Suid-Afrikaanse rugby is walglik. Dit is absoluut oral. Daar is 16-, 17-, en 18-jariges wat opkikkers gebruik.

“Ek dink nie dit is goed dat Suid-Afrika die Wêreldbeker gewen het nie,” sê Gilroy. – Reuters