Die verkeer in die Buffalostad-metro in die Oos-Kaap het Saterdag tot stilstand gekom toe duisende inwoners na die stadsaal opgeruk het om hul Wêreldbekerrugby-kampioene in lewende lywe te sien.

Die Springbok-span was Saterdag in Oos-Londen om met die Webb Ellis-beker te spog ná hul sege in die finaal teen Engeland in Jokohama, Japan.

’n See van groen het die span eers buite die Garden Court-hotel ingewag en kaptein Siya Kolisi was duidelik die gunsteling. “Siya, Siya, Siya,” het die skare saamgesing waarna hulle dansend met “Shosholoza” weggeval het. “Siya, ek is lief vir jou!” het ’n vrou dapper vanuit die skare geskree en haar Suid-Afrikaanse vlag trots geswaai. Kolisi het glimlaggend na die ondersteuners gestap en selfies saam met hulle geneem.

“Ek is baie dankbaar oor almal se ondersteuning. Daarsonder sou ons nie só ver kon vorder nie,” het Kolisi later buite die stadsaal gesê.

Sy woorde was amper onhoorbaar soos hy luid toegejuig is.

Jade Barends (16) het van oor tot oor geglimlag toe haar gunstelingspeler, Cheslin Kolbe, vir haar wuif. “Ek is mal oor Cheslin Kolbe. Ek hou van sy spoed. Hy speel goed en ek bewonder sy tegniek. Ek het ook gekom om vir Elton Jantjies, Faf de Klerk en Herschel Jantjies te sien,” het sy gesê.

springbokke
Al die Bokke is as helde verwelkom in Oos-Londen, maar nou en dan is daar bietjie harder vir die kaptein, Siya Kolisi geskree. Foto: Lulama Zenzile

Die bustoer het die span deur talle woonbuurte geneem, onder meer Mdantsane, Amalinda, Parkside, Buffalo Flats en die sakekern. Talle mense het langs die pad gestaan en kliphard gejuig met wapperende landsvlae, veral nadat De Klerk skielik sy broek afgetrek en sy eina-klein Speedo-broekie gewys het. Sommige inwoners het op hul motors se dakke gestaan terwyl ander selfs op die sypaadjie gebraai het terwyl hulle vir die span gewag het. Selfs die inwoners van die DJ Sobey-ouetehuis het besluit dat hulle nie die geleentheid sou misloop om die Wêreldkampioene te sien nie. Sowat 20 bejaardes het in hul rolstoele met komberse oor hul bene gedrapeer by die tehuis se hek vir die Bokke gewag.

Nóg ’n bejaarde het selfs op ’n sypaadjie in die sakekern sy knopkierie in die lug geswaai en stadig begin ronddans.

Twee van die spelers wat boorlinge is van die Oos-Kaap het die media vlugtig toegespreek. Makazole Mapimpi, oorspronklik van Tsholomnqa in die Buffalostad-metro, het met ’n hees stem gesê hoewel hy die eerste drie in die Wêreldbekerfinaal gedruk het, hy nie op daardie oomblik aan homself gedink het nie. “Al wat in my gedagtes was, is dat ek die Wêreldbeker wou wen, maar as ’n span,” het hy gesê.

“Die feit dat ek die drie gedruk het, was net ’n bonus en ek was baie opgewonde daaroor. Daar was baie druk, maar ook opgewondenheid wat met die Wêreldbeker gepaardgegaan het en ek sien uit daarna om weer vir die Springbokke te speel.”

Lukhanyo Am, wat van King William’s Town kom, sê hy glo dat dié oorwinning hoop gee aan jong spelers uit dié streek om ook die nasionale span te haal. Hy het veral verwys na spelers in sy jeugspan, die Border Bulldogs.

“Ek glo dat ons ’n pad oopgemaak het vir hulle om ook dié vlak te bereik. Dit is reeds voorheen gedoen, maar ek glo ons het weer hoop gegee.”

Am sê omdat die posisie waarin hy hom bevind baie mededingend is, sal hy nou daarop fokus om te verbeter. “Ek streef daarna om beter te word en elke wedstryd beter te speel.”

Die Bokke hervat Sondag hul nasionale toer in Port Elizabeth.

springbokke
Foto: Lulama Zenzile
springbokke
Foto: Lulama Zenzile
springbokke
Foto: Lulama Zenzile
springbokke
Foto: Lulama Zenzile