Die All Black-senter Anton Lienert-Brown draai nie doekies om oor die groot druk op jou skouers wanneer jy die swart trui oor jou kop trek nie.

Lienert-Brown is Donderdag deur Steve Hansen in sy beginspan ingesluit vir Saterdag se Wêreldbekerwedstryd teen die Bokke in Jokohama.

“Daar word altyd van ons verwag om goed te vertoon, die verwagting is nie net dat ons sal wen nie, maar dat ons oortuigend wen,” sê hy.

“Ek het daardie gevoel van dag een af saam met die All Blacks ervaar, so daar is nou selfs ’n bietjie meer druk op ons met die Wêreldbekertoernooi wat die naweek begin.

“Maar ek besef, noudat ek myself al ’n rukkie in hierdie omgewing bevind, dat die druk altyd daar is.

“Dit kom nie net van buite af nie, ons plaas die druk ook van binne die groep op onsself, want ons wil goeie vertonings op die hoogste vlak lewer.”

Hansen het besluit dat Sonny Bill Williams met ’n plek op die plaasvervangersbank tevrede moet wees en Ryan Crotty as binnesenter saam met Lienert-Brown in die middelveld gekies. Die ander senter in die groep, Jack Goodhue, is nie deel van die 23-tal wat die Bokke Saterdag aandurf nie.

Lienert-Brown sê die span het vandeesweek ’n tradisionele opbou-proses gevolg, iets wat “nooit vervelig” raak nie.

“Ons besef die belangrikheid om dinge oor en oor te doen om die beste in die wêreld daarmee te bly,” sê hy.

“Ons is trots op ons vaardighede, so daardie dinge sal vir ons nooit vervelig raak nie.”

All Blacks: Beauden Barrett, Sevu Reece, Anton Lienert-Brown, Ryan Crotty, George Bridge, Richie Mo’unga, Aaron Smith, Kieran Read (k), Sam Cane, Ardie Savea, Scott Barrett, Sam Whitelock, Nepu Laulala, Dane Coles, Joe Moody. PLAASVERVANGERS: Codie Taylor, Ofa Tu’ungafasi, Angus Ta’avao, Patrick Tuipulotu, Shannon Frizell, TJ Perenara, Sonny Bill Williams, Ben Smith.

Springbokke: Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Mapimpi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Duane Vermeulen, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Franco Mostert, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Bongi Mbonambi, Beast Mtawarira, Trevor Nyakane, RG Snyman, Francois Louw, Herschel Jantjies, Frans Steyn, Jesse Kriel.

Afskop: 11:45.

– Sportredaksie