Die vliegtuig waarmee die Springbokke deur die land reis is in die span se kleure geverf.Foto: verskaf

Die Springbokke sal vir hul oorwinningstoer in ’n spesiaal gemerkte Boeing van FlySafair oor die land heen vervoer word.

Die lugdiens sê in ’n mediaverklaring die vliegtuig is in die Springbok-kleure getooi om die ongelooflike oorwinning van die Springbokspan nog meer spesiaal te maak.

Die span besoek tans verskeie groot stede in Suid-Afrika en sal Vrydag in Durban te sien wees, Saterdag in Oos-Londen, Sondag in Port Elizabeth en Maandag in Kaapstad.

Die span het Donderdag Pretoria, Johannesburg en Soweto reeds besoek.

FlySafair sê die groen-en-goud-vliegtuig sal gebruik word om die land se helde te vervoer sodat miljoene Suid-Afrikaners die William Webb Ellis-trofee kan sien.

Die trofee sal saam met die span reis en veilig in die kajuit gebêre word, sê Juliet Tshele, woordvoerder van die lugdiens.

“Ons baie trots op die Springbokspan en die borgskap van ons span. Sport het die vermoë om mense saam te bind, ongeag hul agtergrond of omstandighede.

“Dit is vir ons ’n voorreg om die span te vervoer en hul oorwinning met die inwoners van Suid-Afrika te deel,” sê Kirby Gordon, hoof van verspreiding en verkope van FlySafair.

FlySafair het ook ’n spesiale vlugnommer aan die vliegtuig toegeken. Vlug FA3212 gedenk die eindtelling van die Wêreldbeker-eindstryd verlede week in Japan.