Die dag wanneer ’n skeidsregter nie ’n bier en ’n grap saam met die spelers of ondersteuners mag geniet nie, is die dag waarop rugby die pad byster geraak het, skryf sir Clive Woodward.

Die voormalige afrigter wat die Engelse span in 2003 tot ’n Wêreldbekersege gebrei het, looi Wêreldrugby in sy rubriek in die Mail Online oor die wyse waarop die Suid-Afrikaanse skeidsregter Jaco Peyper die week gehanteer is.

Peyper is weens ’n foto saam met Walliese ondersteuners, waarop hy oënskynlik die Fransman Sébastien Vahaamahina se rooikaart-oortreding in Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd na-aap, sy aanstelling as blaser in Saterdag se halfeindstryd tussen die All Blacks en Engeland in Jokohama kwyt.

Nigel Owens van Wallis is in Peyper se plek aangestel.

“Skeidsregters is nie immuun teen kritiek nie, maar ek ondersteun Jaco Peyper heeltemal want hy Sondagaand net ’n bietjie pret saam met Walliese ondersteuners gehad,” skryf Woodward.

“Dit is belaglik dat die sogenaamde voorval op enige wyse ondersoek word. Vir diegene in die Franse kamp wat hieroor gal braak, sê ek julle het oneindig ernstiger dinge om julle oor te kwel. Soos jul chaotiese afrigting en volgehoue swak dissipline op die veld, wat Frankryk nou al dekades laat swak presteer.

“Kom, ouens, waar is jul humorsin? Die wedstryd was klaar en Vahaamahina se rooikaart was een van die ooglopendste beslissings in die 21ste eeu!”

Die voormalige Engelse afrigter Clive Woodward, wat in Japan is om TV-ontledings oor die WB-toernooi te doen. Foto: Getty Images

Die Franse slot het, volgens hom, presies gekry wat hy verdien het.

“Enige skeidsregter in die wêreld sou hom afgestuur het. En selfs toe moes Frankryk waarskynlik gewen het, maar hulle het voortgegaan om hul kanse om punte aan te teken weg te gooi.”

Volgens Woodward is dit juis ’n kenmerk van rugby dat omstrede voorvalle met gesonde en ironiese humor en ’n paar biere verwerk word.

Hy sê ook soos hy die Franse ondersteuners ken, sou hulle hul teleurstelling eenkant toe geskuif het en ook ’n grappie geniet het. Wie weet, hulle sou dalk selfs vir die identiese foto saam met Peyper geposeer het.

“Jaco is ’n baie ordentlike skeidsregter, wat uitkom, die ondersteuners ontmoet en met die spelers meng.”

* Luidens ’n verklaring deur Wêreldrugby het Peyper verskoning gevra en erken dat sy optrede onvanpas was.