Ysbaddens was Sondag die Australiese rugbyspelers se beste vriende.

Bloukolle en kneusplekke was volop ná die Wallabies se Wêreldbeker (WB)-openingswedstryd teen Fidji Saterdag in Sapporo. Die span se kondisioneringsafrigter, Brad Harrington, sê die eerste 60 ure ná hul sege met 39-21 was die belangrikste in die herstelproses om die spelers slaggereed te kry vir hul bepalende Groep D-wedstryd Sondag teen Wallis in Tjofoe.

“Dit was nogal fisiek, die ouens het baie kontak gevat,” sê Harrington.

“Die Fidjiane is baie vinnig en baie groot, so daar was deurgaans baie momentum en krag wat lywe getref het.

“Die ouens het vanoggend (Sondag) reeds met die herstelproses begin in ysbaddens. Hulle moet weer hidreer en goeie voeding kry.”

Die losskakel Christian Lealiifano was in die middel van Fidji se aanvallende snelweg en is boonop ’n keer of wat kliphard gelak. Harrington sê dit sal egter meer as ’n paar groot duikslae verg om dié Wallaby te ontsenu, wat terug op die wêreldverhoog is ná ’n stryd met leukemie.

“In sy posisie dra hy die bal lyn toe en die groot Fidjiane het hom gisteraand raakgery,” sê Harrington.

“Jy kan nie regtig Christian se karakter en werksetiek bevraagteken nie, ná alles wat hy die laaste paar jaar moes deurmaak.

“Hy is baie seer vanoggend (Sondag) van al daardie houe, maar dit is baie goed om te sien hoe hy op die veld doen wat hy doen.”

Peceli Yato word deur Reece Hodge platgetrek. Foto: Getty Images

Die Fidjiane se volgende wedstryd is Woensdag in Kamaisji teen Uruguay. Nie net laat dié skedule die Suidsee-eilanders met min hersteltyd nie, maar hulle het boonop hul ysterflank Peceli Yato aan ’n kopbesering verloor.

Yato is in die 26ste minuut deur ’n omstrede duikslag van die Wallabies se vleuel Reece Hodge neergevel.

Die Fidjiane het die skeidsregter, Ben O’Keeffe, gevra om die beslissing te verwys, maar die wedstrydbeamptes het geen fout daarmee gesien nie.

John McKee, Fidji se breier, het bevestig Yato sal nie teen Uruguay speel nie.

Hy bestempel dié wedstryd, wat die Fidjiane behoort te wen, as ’n potensiële piesangskil.

“Dit is ’n gevaarlike wedstryd vir ons. Die ouens sal baie moeg wees. Ons moet reis en Maandag sal ons op Woensdag se wedstryd fokus.” – Reuters