Die Walliese losskakel Dan Biggar se deelname aan die uitspeelrondes van die Wêreldbeker-toernooi is in die weegskaal nadat hy in Woensdag se groepwedstryd teen Fidji wéér ’n hou teen die kop gekry het.

Biggar het dieselfde in Wallis se WB-wedstryd teen Australië op 29 September oorgekom.

Biggar (29) is onmiddellik ná sy botsing met sy spanmaat Liam Williams in die tweede helfte van die sege van 29-17 oor Fidji vervang.

Die spelers het in die lug gebots toe albei die bal probeer bemeester het. Williams se skouer het Biggar teen die kop getref en die losskakel was vir ’n rukkie katswink voordat hy die veld self verlaat het.

Hy is eenvoudig uit die wedstryd verwyder, wat beteken dat hy nie vir Sondag oorweeg sal word nie. Ons sal waarskynlik ook iemand kry om na hom te kyk.
Warren Gatland

“Ons het nie eers ’n harsingskuddingtoets langs die veld gedoen nie. Hy is eenvoudig uit die wedstryd verwyder, wat beteken dat hy nie vir Sondag oorweeg sal word nie. Ons sal waarskynlik ook iemand kry om na hom te kyk,” het Wallis se afrigter, Warren Gatland, ná die wedstryd in Sjizoeoka aan die media gesê.

Wallis speel Sondag in Koemamoto teen Uruguay en sou Biggar in elk geval nie gekies het vir dié stryd, wat die Rooi Drake gemaklik behoort te wen nie.

Die vraag is egter of hy ’n week later al die groenlig sal kry om in die kwarteindronde te speel, want daar was reeds oor sy deelname aan die wedstryd teen Fidji, vanweë die hou teen die kop teen die Wallabies.

Die Walliesers sal met ’n oorwinning oor Uruguay boaan Groep D eindig.

Die Drake is egter Woensdag groot laat skrik deur ’n begeesterde Fidji-span.

Warren Gatland

“Ons het geweet dit gaan taai wees teen Fidji. Hulle was baie goed in hul laaste 15 minute teen Georgië en het teen Australië sterk begin. Hulle het spelers van wêreldgehalte,” het Gatland ná die wedstryd gesê.

“Ek dink die spelers het baie goed gedoen om ’n agterstand van 0-10 uit te wis. Ons het terug in die wedstryd gekom en sterk geëindig. Daar is ware karakter gewys in ’n harde en fisieke wedstryd.”

Vroeg in die wedstryd het dit gelyk asof Wallis vir Fidji onderskat het. Fidji was binne die eerste 10 minute reeds met 10-0 voor danksy drieë deur Josh Tuisova en Kini Murimurivalu.

Twee spelers aan albei kante het in die koelkas beland in ’n wedstryd waar albei spanne se dissipline hulle nou en dan in die steek gelaat het.

Wallis se ervaring was in die laaste kwart van die wedstryd bepalend. Josh Adams, die Drake se linkervleuel, het drie van sy span se vier drieë afgerond.

Puntemakers:

 Wallis 29 (14): Drieë: Josh Adams (3), Liam Williams. Doelskoppe: Dan Biggar (2), Rhys Patchell. Strafdoel: Patchell.

Fidji 17 (10): Drieë: Josua Tuisova, Kini Murimurivalu, strafdrie (7 punte).


Hier bots Biggar en Williams: