As die Springbokke Sondag in die Wêreldbeker-halfeindstryd druk op Wallis se lynstane en skrums kan volhou vir 80 minute, sal hulle die Rooi Drake se aanvallende vuur blus en dwing om staat te maak op strafskoppe vir punte.

Só sê Andries Pretorius, ’n voormalige losvoorspeler van Wallis, oor die naweek se kragmeting tussen sy geboorteland, Suid-Afrika, en sy aangenome land in Jokohama, Japan.

“Albei spanne het fantastiese stelskoppers (Dan Biggar en Handré Pollard), so dan kan enige iets gebeur.

“Wallis was in die Sesnasies-reeks uitstekend wanneer dit kom by lynstane-dryfmale verdedig en die naweek gaan hulle op hulle beste moet wees teen een van die Bokke se grootste wapens.

“Strafskoppe in dié area kan veral Wallis groot kos, maar as hulle te veilig speel, sal die Bokke daarop kapitaliseer.

Wallis se kaptein, die slot Alun Wyn Jones, tydens die afgelope naweek se kragmeting teen Frankryk. Foto: Getty Images

“Hulle (Wallis) sal glo dat hulle kan wen en ek dink hulle sal baie dieselfde spelpatroon speel as Suid-Afrika. Skop diep, vertrou jou verdediging, en dwing die Springbokke om foute te maak in hulle helfte van die veld,” sê die 34-jarige Pretorius, ’n boorling van Mbombela, wat twee toetse vir die Rooi Drake gespeel het.

Hoewel Wallis die afgelope naweek allermins op sy beste teen Frankryk in die kwarteind was, en ook maar effentjies in sy laaste groepwedstryd, teen Uruguay, vertoon het, heg Pretorius nie te veel waarde daaraan nie.

“Ek stem saam dat Frankryk vir groter dele van die wedstryd die beter span was. Maar in die toekoms sal niemand dit onthou nie.

“In uitkloprugby is die telling aan die einde van die wedstryd al wat saak maak. Die vermoë om “lelik” te kan wen, is ’n kenmerk van ’n goeie span. Dit is Wallis se beste geleentheid om die eindstryd van die Wêreldbeker te haal.”

Vir Pretorius, ’n voormalige uitvoerende hoof van die Walliese Rugbyspelers-organisasie, is die verwagte tweestryde tussen die slotte Eben Etzebeth en Alun Wyn Jones en die flanke Siya Kolisi en Justin Tipuric iets waarna hy uitsien.

So wie gaan die Webb Ellis-trofee oor ’n rapsie meer as ’n week omhoog hou?

Andries Pretorius (regs) tydens ’n oefensessie van die Wallis in 2013. Links is die destydse kaptein Sam Warburton. Foto: Getty Images

“Daar is geen twyfel nie dat die toernooi die All Blacks s’n is om te verloor en Engeland, Wallis en Suid-Afrika s’n om te wen. Veral as hulle (All Blacks) speel soos hulle die afgelope naweek (teen Ierland) gedoen het.

“Van wat ons tot dusver gesien het in die toernooi, is dit net Engeland wat die All Blacks sal kan klop,” sê Pretorius.

En wanneer die Rooi Drake en die Springbokke die naweek hul volksliedere sing voor die aanvang van die wedstryd, sal daar vir Pretorius heimwee wees, maar hy ondersteun Wallis.

“Ek kan nie jok en sê ek voel niks as ‘Nkosi Sikelel’ iAfrika’ gesing word, of as ‘Shosholoza’ deur die stadion weerklank nie, maar vir die laaste tien jaar het ek elke dag saam met Walliese spelers spandeer.

“Ek weet nie waar ek sou wees as ek nie die geleentheid gekry het om oor te begin hier in Wallis nie. So die naweek sal ek sal met trots my rooi trui dra – terwyl ek sit en biltong en droëwors eet.”