Wallis se verdedigingsafrigter, Shaun Edwards, is net so bekommerd oor Cheslin Kolbe se “blaasvlam-vaart” as oor die groot manne in die Springbok-agttal voor Sondag se Wêreldbeker-halfeindstryd.

Die Drake het sedert hulle in die kwarteindstryd van die 2015-toernooi deur Suid-Afrika uitgeskakel is, vier toetse opeenvolgens teen die Springbokke gewen.

Edwards sê egter Wallis sal op sy allerbeste in Jokohama moet wees Sondag.

“Ons het heel skaflik teen hulle gevaar die afgelope tyd maar, net soos teen Frankryk, behoort daar ’n punt of twee tussen die spanne te wees.

“Dit sal natuurlik eerstens nodig wees om ons man te staan op die voordeellyn, want hulle het groot manne.

“Hulle het ook ongelooflike vaart. As daar ’n 4x100 m-aflosnaelloop was onder al die spanne wat in die toernooi deelneem, sou die Bokke die vinnigste gewees het.”

Edwards sê hulle verwag dat Suid-Afrika goed georganiseerd en genadeloos op die verdediging sal wees en slim sal skop.

“Maar hulle het ook blaasvlam-vaart op die punte.”

Dié voormalige rugbyliga-ster sê hy het hoë agting vir die Springbokke se skakelpaar, Handré Pollard en Faf de Klerk, maar dit is Kolbe met sy blitsige voetwerk wat vir hom uitstaan.

Hy sê die 25-jarige vleuel herinner hom aan Jason Robinson, wat Engeland in 2003 gehelp het om die Wêreldbeker in Australië te wen.

“As jy wil gaan rugby kyk, wil jy vir Cheslin Kolbe gaan kyk. Ons sal hom mooi moet dophou, want hy is een van die mees dinamiese spelers wat ek al gesien het.

“Ek was bevoorreg om saam met Jason Robinson te speel en ek was kaptein van Wigan (se rugbyligaspan) toe hy by ons begin het.

“Kolbe is ’n soortgelyke speler, ongelooflik op die aanval, rats, kort en bewys die teorie dat jy groot moet wees om rugby te speel, verkeerd.”

Nadat Wallis in Oita 19 punte teen die Franse afgestaan het in die kwarteindronde, is die mikpunt om nie meer as tussen 13 tot 15 punte teen die Bokke af te staan nie, sê Edwards.

Hy meen die wedstryd sal op die voordeellyn beslis word.

“Dit gaan ’n grote wees in dié afdeling. Baie mense kyk gewoonlik net na verbroude duikslae, maar dit is nie waaroor dit gaan nie.

“Het jy oorheers op die voordeellyn of nie? Dit is eerder die vraag.”

– Reuters