Wallis sal die fisieke en weerkundige storm wat voorspel word, moet afweer wanneer hulle Maandag in hul openingswedstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi teen Georgië te staan kom.

Só het die Rooi Drake se hulpafrigter Shaun Edwards voor die kragmeting in Toyota gesê.

Wallis se opbou tot die toernooi was allesbehalwe probleemvry, met drie nederlae in hulle laaste vier toetse en ook die skok met hul aanvalsafrigter, Rob Howley, wat uit Japan huis toe gestuur is weens ’n beweerde oortreding van rugby se reëls oor weddenskappe.

Maar Edwards sê ongeag dít en die voorspelling van reën en wind tydens die wedstryd, is hulle vol vertroue oor ’n oorwinning in hul eerste wedstryd.

“Ons het vir twee jaar hiervoor voorberei, ons is gefokus op die wedstryd teen ’n formidabele teenstander vir wie ons baie respek het. Dit sal fisiek wees, maar ons is hier om mee te ding,” het Edwards Sondag aan verslaggewers in Toyota gesê.

“Fisiek lyk hulle (die Georgiërs) in ’n goeie toestand en hulle is groot manne, maar so ook ons. Ons het nie hierheen gekom om die getalle vol te maak nie.

“Hulle het ’n inspirerende kaptein (Mikheil Nariashvili) en hy sal oorgehaal wees om sy troepe slagveld toe te lei.”

Edwards sê die meeste van die harde werk sal waarskynlik deur die voorspelers gedoen word. Hy glo die vroeë wedstryde by die toernooi het die belangrikheid van oorheersing in die vaste fasette bewys.

“Saterdag se rugby het bewys hoe belangrik lynstane en skrums is. Die Suidelike Halfrond roer sake by die lynstane, wat tradisioneel nie die manier is hoe hulle die wedstryd benader nie.

“Australië het oorheers in die vaste skrums (teen Fidji), Argentinië het daar ook goed gevaar (teen Frankryk), so dit wys dat die basiese beginsels van rugby steeds ’n belangrike deel van die spel vorm.”

Dit kan veral belangrik word as die verwagte reën met ’n sterk gepaardgaande wind uitsak, maar Edwards verwys na die oorwinning van 25-7 oor Ierland in Maart in ’n nat Cardiff as bewys van sy span se vaardighede om in alle soorte weersomstandighede te speel.

“Indien die storm kom, is daar niks wat ons daaraan kan doen nie. Ons het die toestande teen Ierland goed hanteer toe hulle die dak (van die Millennium-stadion) oop verkies het vir die laaste Grand Slam-wedstryd.

“Ons is vol vertroue oor hoe ons in nat toestande kan speel en as dit glibberig is, wat moontlik kan wees, sal ons ons taktiek moet aanpas.”

* Wallis: Liam Williams, George North, Jonathan Davies, Hadleigh Parkes, Josh Adams, Dan Biggar, Gareth Davies, Wyn Jones, Ken Owens, Tomas Francis, Jake Ball, Alun Wyn Jones (k), Aaron Wainwright, Justin Tipuric, Josh Navidi. PLAASVERVANGERS: Elliot Dee, Nicky Smith, Dillon Lewis, Aaron Shingler, Ross Moriarty, Tomos Williams, Rhys Patchell, Leigh Halfpenny.

Georgië: Soso Matiashvili, Miriani Modebadze, Davit Kacharava, Tamaz Mchedlidze, Giorgi Kveseladze, Tedo Abzhandadze, Vasil Lobzhanidze, Beka Gorgadze, Mamuka Gorgodze, Giorgi Tkhilaishvili, Konstantine Mikautadze, Giorgi Nemsadze, Beka Gorgodze, Shalva Mamukashvili, Mikheil Nariashvili (kt). PLAASVERVANGERS: Jaba Bregvadze, Guram Gogichashvili, Levan Chilachava, Shalva Sutiashvili, Beka Saginadze, Otari Giorgadze, Gela Aprasidze, Lasha Khmaladze.

Skeidsregter: Luke Pearce (Eng).

Afskop: 12:00 (SS 1).

– Reuters en Sportredaksie