Warren Gatland, afrigter, het “die lig gesien” deur James Davies in Wallis se span in te sluit, wat Woensdag teen Fidji in dié spanne se Wêreldbeker-wedstryd te staan kom.

Die 28-jarige Davies is een van drie veranderinge, wat een posisionele skuif insluit, aan die Rooi Drake se span wat met Australië afgereken het.

Davies sak op oopkantflank in die plek van Justin Tipuric, met Josh Navidi wat van agtsteman na die kant van die skrum skuif. Ross Moriarty is die nuwe agtsteman.

So bly was Davies, broer van die senter Jonathan Davies, dat Gatland hom gekies het, dat hy geen geheim gemaak het oor wat dit vir hom beteken om in die beginspan te wees nie.

Warren Gatland, afrigter van Wallis. Foto: Getty Images

“Toe ek James gelukgewens het, het hy geantwoord: ‘So jy het uiteindelik die lig gesien.’ Hy het egter bygevoeg dat hy net ’n grappie maak,” sê Gatland, volgens irishtimes.com

“Ek hou daarvan. Ek het gedink dit is ’n briljante opmerking. Ek hou van ’n bietjie geskerts en het geen probleem met opmerkings soos daardie nie.

“Dit wys vir my dat ’n speler geloof in sy eie vaardighede het en in die span wil wees, en ook dat hulle dink hulle is goed genoeg om die span te haal,” sê Gatland.

Die goeie nuus is dat Dan Biggar, losskakel, van die kopbesering herstel het wat hy teen die Wallabies opgedoen het.

Die onoorwonne Wallis sal met ’n sege sy plek in die kwarteindstryd bespreek, maar weet maar te goed dat die Fidjiane nie onderskat kan word nie. Fidji het in die 2007 Wêreldbeker die Rooi Drake met 38-34 geklop.

* Wallis: Liam Williams, George North, Jonathan Davies, Hadleigh Parkes, Josh Adams, Dan Biggar, Gareth Davies, Ross Moriarty, James Davies, Josh Navidi, Alun Wyn Jones (k), Jake Ball, Tomas Francis, Ken Owens, Wyn Jones. PLAASVERVANGERS: Elliot Dee, Rhys Carre, Dillon Lewis, Aaron Shingler, Aaron Wainwright, Tomos Williams, Rhys Patchell, Owen Watkin.

– Sportredaksie