Wallis het Sondag in Oita met 20-19 deurgeskraap teen Frankryk na die halfeindronde van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan.

Hy moes sterk terugveg in die tweede helfte van hierdie kwarteindstryd in Oita.

Die Franse moes die laaste 31 minute met een speler minder klaarkom, nadat die slot Sebastien Vahaamahina met ’n rooikaart van die veld gestuur is weens ongeoorloofde spel.

Dit was ’n deurslaggewende oomblik in hierdie wedstryd.

Hy was baie onverantwoordelik en het Wallis se flank Aaron Wainwright eers om die nek beetgekry en hoe toe met die elmboog teen die nek en wang geslaan in ’n losgemaal.

Daarna moes die Franse keer vir alles wat hulle werd was.

Sewe minute voor die einde het Wallis die eerste keer in die wedstryd die voortou geneem toe die plaasvervanger-losvoorspeler, Ross Moriarty, wat self in die eerste helfte tien minute lank uit die spel was met ’n geelkaart, gedruk het.

Frankryk het rustyd ’n gerieflike voorsprong van 19-10 gehad, maar in die tweede helfte kon hulle net nie momentum kry nie.

Sebastien Vahaamahina verlaat die veld nadat hy ’n rooikaart op die lyf geloop het vir ongeoorloofde spel.Foto: AP

In die eerste helfte het die bal net reg gespring vir die Franse en het hulle drie drieë teenoor een gedruk.

Sommer reeds in die eerste tien minute het die Franse twee keer gaan druk, met Vahaamahina en Charles Ollivon wat afgerond het.

Die Franse se derde drie was ná ’n halfuur se spel toe daar voordeel getrek is uit die feit dat Moriarty, in die koelkas beland het weens ’n hoogvat. Virimi Vakatawu het daardie drie gedruk om die voorsprong te rek, wat verklein is deurdat Wallis tien onbeantwoorde punte aangeteken het nadat hulle vroeg met 12-0 agter was.

* Puntemakers:

Frankryk 19 (19): Drieë: Sebastien Vahaamanina, Charles Ollivon, Virimi Vakatawu. Doelskoppe: Romain Ntamack (2).

Wallis 20 (10): Drieë: Aaron Wainwright, Ross Moriarty. Doelskoppe: Dan Biggar (2). Strafdoele: Biggar (2).