Wallis het Maandag in Toyota, Japan, gewys dat hy reg is om vuur te spoeg in vanjaar se Wêreldbekertoernooi.

Die Walliesers het Georgië in die City of Toyota-stadion met 43-14 gelooi en in die proses ses drieë gedruk.

Die wenspan het sy beste rugby in die eerste 20 minute gespeel toe hy drie aanskoulike drieë gedruk het.

In daardie tydperk het dit gelyk of die manne van Georgië nie ’n idee van verdedigingslyne het nie.

In die tweede helfte het Georgië baie beter verdedig as in die eerste skof. Hier is dit Wallis se losskakel Dan Biggar wat vasgevat word.Foto: Getty Images

Wallis was met die rustyd met 29-0 voor en Beka Gorgadze, Georgië se agtsteman, het in die onderhoud agterna op SuperSport gesê dit was teen die einde te veel punte om in te haal.

Gorgadze en sy maats het egter hard probeer om dit in die tweede skof te doen.

Dit was ’n baie beter vertoning as in die eerste helfte en skielik het die span ook met geweldige aggressie verdedig.

Georgië het eintlik die tweede helfte oorheers en was ongelukkig om nie meer punte te kry nie.

Die telling vertel nie die hele verhaal van die wedstryd nie. Wallis was weliswaar by tye goed en is duidelik een van die beter spanne by die toernooi.

Georgië se spelers het egter gewys dat hulle nie net kan skrum nie, maar ook kan storm en duik. Die span is nie geseën met agterspelers wat vol flair is nie, maar die spelers het baie harte gewen met hul veggees.

Vir die wenspan was Jonathan Davies (senter) en Josh Adams (linkervleuel) gevaarlik met die bal in die hand en voorlangs was die slot Jake Ball en een flank Justin Tipuric baie hardwerkend.

Gorgodze, Shalva Mamukashvili (haker) en Otari Giorgadze (plaasvervanger-flank) het vir die verloorspan uitgeblink.

  • Jonathan Davies, Justin Tipuric, Josh Adams, Liam Williams, Tomos Williams, George North. Doelskoppe: Dan Biggar (4), Leigh Halfpenny. Strafskop: Biggar.
  • Shalva Mamukashvili, Levan Chilachava. Doelskoppe: Tedo Abzhanidze (2).