Wallis het Woensdag in die strik getrap om rugby te wil speel soos Fidji dit verkies, maar kon hom betyds loswikkel om hul Wêreldbeker-wedstryd in Sjizoeoka met 29-17 te wen.

Josh Adams, die Drake se linkervleuel, het ’n driekuns aan drieë aangeteken voordat die heelagter, Liam Williams, tien minute voor die einde afgerond het om die manne van die Suidsee ná ’n yslike geveg planke toe te stuur.

Wallis het in die proses groot geskrik. ’n Mens kon vroeg in die wedstryd sien dat hulle vir Fidji onderskat het en nie sielkundig met die regte ingesteldheid opgedaag het nie.

Toe Fidji se regtervleuel, Josh Tuisova, in die vierde minuut reeds drie verdedigers onderweg doellyn toe geklop het, het die Walliesers skielik besef hulle gaan nie dié kragmeting op ’n drafstap wen nie.

Dit het erger geraak voor dit beter geraak het. Ken Owens, Wallis se haker, is in die agtste minuut met ’n geelkaart gestraf vir ’n gevaarlike duikslag en Kini Murimurivalu het twee minute later ’n agterlynbeweging afgerond om dit 10-0 te maak.

Fidji se dissipline het egter ook veel te wens oorgelaat en die momentum van die wedstryd het geswaai toe die slot Tevita Cavubati in die koelkas beland het vir ’n skouerloop.

Dan Biggar
Dan Biggar (Getty Images)

Adams het sy eerste drie van ’n dwarsskop deur Dan Biggar aangeteken, waarna Wallis in Fidji se kwartgebied kamp opgeslaan en strafskoppe gemelk het. Herhaalde oortredings deur Fidji het die flank Semia Kunatani ook in die koelkas laat beland. Die druk het mettertyd ’n tol geëis vir Adams om af te rond.

Met rustyd was Wallis met 14-10 voor, maar Fidji se vuur was allermins geblus.

Die Walliesers kon eenvoudig nie ’n greep op die wedstryd kry nie en hoe losser dit geraak het, hoe meer het Fidji gedy.

Toe die Walliese flank James Davies hom boonop ’n geelkaart op die hals gehaal het vir ’n siniese oortreding, was die kat in die duiwehok. Fidji, wat nie bekend is vir sy spel in die vaste fases nie, het ’n rolmaalbeweging van die lynstaan geloods en Wallis se onwettige keerwerk het op ’n strafdrie uitgeloop.

Daarna moes die Drake nog bontstaan voordat senior spelers begin hand opsteek het. Jonathan Davies, Wallis se deurwinterde buitesenter, het ’n bres geslaan om Adams se derde drie te skep.

Dit het nie Fidji se vuur geblus nie, maar die Walliesers het die klas en ervaring gehad om die laaste tien minute van die wedstryd te beheer.

Williams het sy drie van ’n teenaanval afgerond ná ’n onoordeelkundige skop veldaf deur Fidji.

Dit het nie Fidji se vuur geblus nie, maar die Walliesers het die klas en ervaring gehad om die laaste tien minute van die wedstryd te beheer.

Wallis sal intussen ook op hete kole wees oor die fiksheid van sy eerstekeuse-losskakel, Dan Biggar. Hy is in die tweede helfte per ongeluk deur die Walliese heelagter, Williams, teen die kop getref toe hulle albei in die lug gespring het om die bal te bemeester. Hy het hard te lande gekom en moes vir ’n harsingskuddingtoets gaan.

Hy het nie weer op die veld verskyn nie.

Puntemakers:

Wallis 29 (14): Drieë: Josh Adams (3), Liam Williams. Doelskoppe: Dan Biggar (2), Rhys Patchell. Strafdoel: Patchell.

Fidji 17 (10): Drieë: Josua Tuisova, Kini Murimurivalu, strafdrie (7 punte).