’n Stotterende Wallis het boaan Groep D in die Wêreldbeker-rugbytoernooi geëindig, maar het ’n wind of twee in sy laaste groepwedstryd teen Uruguay gesluk.

Die Rooi Drake het Uruguay Sondag met 35-13 in Koemamoto, Japan, geklop om onoorwonne ná die groepwedstryde te wees.

Wallis kom nou in die kwarteind teen Frankryk te staan, maar daar wag straks ’n paar slapelose nagte op die Walliesers se afrigter, Warren Gatland.

Daar was hordes hanteerfoute en die Rooi Drake het nie altyd gelyk of hulle weet wat om met die bal te doen nie.

Die span het in die eerste helfte na allesbehalwe ’n moontlike kampioen gelyk. Daar was hordes hanteerfoute en die Rooi Drake het nie altyd gelyk of hulle weet wat om met die bal te doen nie.

Daarteenoor het Uruguay duidelik voor die afskop besluit: Wallis se reputasie as een van die voorste spanne in die wêreld beteken niks. Want Uruguay het soos tiere verdedig, besit by die losgemale omgekeer en meer as een keer oor die voordeellyn gekom.

Voeg daarby die Suid-Amerikaners se giftige skrumskakel, Santiago Arata, wat met sy skopvoet sy span gereeld in die Walliesers se helfte van die veld gekry het, en jy weet hoekom Uruguay teen rustyd slegs met 6-7 agter was.

Warren Gatland tydens die Britse en Ierse Leeus se toer in 2017 in Nieu-Seeland. Foto: Getty Images

Gatland het beslis met die waterbreuk sy span die leviete voorgelees en Wallis was ’n ander gedierte in die tweede helfte.

Die Rooi Drake het skerper op die aanval gelyk en ook die kontaksituasies oorheers. Maar Uruguay het steeds kliphard verdedig – wat die wenspan steeds onnodige foute laat begaan het.

Toe die vleuel Josh Adams egter agt minute ná rustyd oorduik, het jy die gevoel gekry dat Wallis se wekker uiteindelik afgegaan en die span wakker geskrik het.

Einste Adams was een van sy span se uitblinkers en het gevaarlik gelyk elke keer wat hy aan die hardloop gegaan het.

Ook die Rooi Drake se losskakel, Rhys Patchell, het sy agterlyn goed weggestuur – sy hanteerfoute in die eerste helfte kan seker vergewe word.

Voorlangs het die lostrio, Aaron Wainwright, Justin Tipuric en Aaron Shingler, uitgeblink, met veral Shingler wat nie bang was om sy lyf op die spel te plaas nie.

Puntemakers:

Wallis 35 (7): Drieë: Nicky Smith, Josh Adams, strafdrie, Tomos Williams, Gareth Davies. Doelskoppe: Leigh Halfpenny (4).

Uruguay 13 (6): Drie: German Kessler. Doelskop: Felipe Berchesi. Strafdoele: Berchesi (2).