’n Gebaar van gelukwensing tussen Ben O’Keeffe en ’n Fidjiaanse speler in die Suidsee-eilandspan se Wêreldbekerwedstryd teen die Wallabies is deur die Aussie-media gekritiseer, met die kollig wat al hoe feller skyn op skeidsregters by die toernooi in Japan.

Beeldmateriaal wys hoe die Nieu-Seelandse blaser sy regterhand uitsteek na Fidji se heelagter, Kini Murimurivalu, nadat die eilandmanne in die tweede helfte van Saterdag se kragmeting in Sapporo gaan druk het om met 21-12 voor te loop.

Murimurivalu klap O’Keeffe se hand in die verbydraf vir wat as ’n “low five” beskryf word.

“Ongeag sy intensies of redes vir die gebaar, moet so iets eenvoudig net nie gebeur nie,” sê Fox Sports op sy webblad.

“Dit is ’n doodsonde en stel O’Keeffe bloot vir aanvalle.”

Ben O’Keeffe het die tonge los weens ’n “low five” in Saterdag se kragmeting tussen Fidji en die Wallabies.

O’Keeffe (30) was fyn dopgehou vir sy vertoning in die Wallabies se sege van 39-21 oor Fidji, sy buiging as blaser in ’n Wêreldbekertoernooi.

Hy het die Australiese vleuel Reece Hodge ongestraf gelaat vir ’n gevaarlike duikslag op Peceli Yato, met die Fidjiaanse flank wat harsingskudding opgedoen het en die veld moes verlaat. Hodge is intussen vir vuilspel uitgewys en sy toernooi kan iets van die verlede wees.

O’Keeffe se “low five” is ook in sy tuisland gekritiseer. Marc Hinton beskryf die voorval in ’n rubriek op Stuff as ’n “breinfloute”.

“Daar is eenvoudig geen plek in beroepsport vir ’n skeidsregter om enigsins saam met ’n span op die veld fees te vier nie,” sê hy.

“O’Keeffe moet herinner word aan sy verantwoordelikhede as ’n skeidsregter en dat sy vertonings fyn dopgehou word.”

Brett Gosper, uitvoerende hoof van Wêreldrugby, het verlede week verklaar dat wedstrydbeamptes beter voorbereid as met enige vorige Wêreldbekertoernooi is.

Maar ’n klomp afrigters en spelers het hul verbystering uitgespreek oor skeidsregters se vertonings gedurende die eerste naweek van die skouspel.

– Reuters